Jesus se opstanding uit die dood het vir ons die unieke
betekenis dat óns, óók sáám met Hom, kan opstaan uit die dood,
en wel in die breedste sin van die woord.

So kan ons nóú reeds uit ons sondige bestaan opstaan, én eendag
ook uit die graf. In die breedste sin van die woord moet ons nou reeds
die werklikheid van ons opstanding uit die dood uitleef!
Ons moet teen alle vorme van die sonde en dood in die samelewing veg.
Want: Die opstanding van Jesus is die triomf oor die sonde en die dood
in letterlik al sy vorme. Die implikasie daarvan is dat ons sélf, daagliks,
op grond van Jesus se opstanding, uit die dood en die verderf opstaan
teen die sonde en die dood in hierdie wêreld!

Dít is wat die Bybel “heiligmaking” noem, en wat Calvyn “voordurende of
daaglikse bekering” noem. Dít is gegrond op die hartklop van die evangelie:
Dat Jesus met sy opstanding oor die sonde en die dood triomfeer!
Daarom is die wesentlike aard van heiligmaking dit:
Om telkens wanneer ons in ons lewens en rondom ons die tekens van die
sonde en die dood sien, dit met alles in ons te beveg! Ons beveg dit met
die opstandings-krag van Jesus in ons!
Heiligmaking is om werklik in die krag van die opstanding van Jesus te glo
en daagliks daaruit te leef.

Dit is immers dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het,
wat God ook uitoefen in ons wat glo! – Ef. 1:19-20.
In die tyd waarin ons leef en so maklik só baie kla, moet ons bid:
“Opgestane Here van my lewe, verander my klag in ‘n uitleef van U krag!
Amen!”

Ernest