Die opstanding van Jesus Christus gee ons die moed
om baie sterk te protesteer en in opstand te kom teen alle
vorme van sonde en die dood. Nie net in ons eie lewe nie,
maar ook in die samelewing as geheel. Die opstanding van Jesus
het verreikende betekenis vir alle terreine van ons lewe.

Ons moet dit nie verinnerlik asof dit net oor onsself en ons redding
gaan nie. Die krag van Jesus se opstanding moet juis bely word en
gedemonstreer word in elke faset van die lewe. Jesus het opgestaan
vir hierdie wêreld in sy geheel.

Christus se opstanding het, net soos sy lyding, kosmiese betekenis.
Dit het ingrypende implikasies vir die ganse heelal! Na sy opstanding
uit die dood het God álles aan Hom onderwerp.
God het “Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk”,
sê Ef. 1:22. Die Bose is oorwin. Christus is die Here! Hy het álle mag!
Hierdie feit moet ons daagliks prakties toepas en uitleef. Ons mag nie
aanvaar dat enige iets wat nié reg is nie, nie kan verander nie. Ons mag
nie maar sug in die aanvaarding van die status quo in dinge wat verkeerd
is nie. Dit geld álle verhoudings waarin ons leef in terme van God,
mense en die totale skepping.

Ons moet dit nie net “waag” met die opgestane Jesus nie,
maar dit in alle oortuiging en oorgawe uitleef! Dieselfde krag wat Jesus
uit die dood opgewek het is beskikbaar vir ons wat glo. Ons moet die Here
aanbid as die Koning van die kerk, en die kosmos, die Here oor die heelal.
Dit sluit elkeen van ons persoonlik in!

Ernest