‘n Joernalis het aan die bekende Duitse vroue-teoloog Dorothee Sölle
gevra of Christene regtig die aanspraak kan maak dat Christus
“alles nuut maak”. Hy het ook pertinent gevra : “Glo u werklik dat mense
kan verander?” Met “mense” het hy bedoel gewone mense soos ons.
Mense soos ons mense ken. Soos ons self ook maar is: sondig, dikwels
onverbiddelik, onvergewensgesind, en ook dikwels onversetlik op ons
gebaande weë. Kán sulke mense werklik verander? Mense wat al jare
lank alkoholiste is? Of dwelmslawe? Onverskillig en kerklos?
Wat van totale Godloënaars? Glo ons regtig dat hulle totaal kan verander?
Kan ons ons eie sondes, groot en klein, waaraan ons dikwels so krampagtig
vasklou werklik totaal aflê?

Ja! Ons kan! Die krag waarmee God vir Christus uit die dood opgewek het,
kán verseker sondige mense verander! Paulus stel dit so duidelik in Ef. 5:8:
“Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig.
Leef dan as mense van die lig.”

Daardie persoon vir wie jy al so lank bid, daardie ouer, kind, vriend...
kán verander!
En in jou eie lewe...dit waarmee jy so worstel en dit wat jou so kniehalter,
kan afgelê word. Dit kan oorwin word in Christus!
Só het Dorothee Sölle dan ook die joernalis geantwoord:
“Ja! Mense kan verander. As ons hieraan twyfel, twyfel ons aan die krag van
God wat Christus uit die graf opgewek het. As óns dít nie glo nie, is óns die
opperste ateïste...”

Ons is egter Christene wat glo! Jesus het opgestaan!
Vroeër was ons die ene duisternis. En nou, in die Here, is ons lig!
Lééf dan as mense van die lig!

Ernest