Filippense 3:12: “Ek span my in om dit alles myne te
maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.”
Ons kan en moet as Jesus se volgelinge daagliks lééf uit
die triomf oor die dood. Ons moet die doodsheid uit ons
denke weer en die Léwe najaag. Ons moet dit lééf!

Dit is waaroor Paulus hier skryf in Filippense 3:12-14:
“Ek span my in om dit alles (= die Lewe) myne te maak
omdat Jesus Christus my reeds Syne gemaak het...ek maak
my los van wat agter is (=die doodsheid in ons denke) en strek
my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te
kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my
geroep het in Christus Jesus.”

Die opwekking van Jesus uit die dood wek ons op en moet
ons opgewek maak om voluit te lééf! Sy opstanding laat óns
opstaan en moet ons opstandig maak teen alle vorme van
sonde en dood. Dit maak ons opgewonde en vul ons hart
en lewe met vreugde.

Dit gee ons veral moed én die krag om nou reeds elke dag
voluit vir die Here te leef op hierdie aarde. Ons sit nie en wag
vir die hemel nie. Ons is nou op die aarde, geroep om die
evangelie hier uit te leef as God se getuies en sy verteenwoordigers.
Ons uiteindelike woonplek is die nuwe aarde onder die nuwe hemel.
2 Petrus 3:13-14: “Ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en
‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”
Een van die baie belangrike gevolge van Jesus se hemelvaart, na sy
opstanding, is dat dit óns op ‘n nuwe wyse aan die aarde knoop!
God het nie net hierdie aarde aan die begin geskep nie.
Hy gaan dit ook herskep!

Daarom is Christene nie wêreldvreemde mense nie.
Ons moet juis in die Naam van Jesus bly stry om die verlossing
en herskepping van hiérdie wêreld. Dit is waarvoor ons hiér is.
Jesus se opstanding en sy hemelvaart sit ons aan die werk op
hiérdie aarde tot by die uithoeke daarvan!
Só sien ons dan uit na sy wederkoms!
Ons moenie vir die hemel sit en wag nie.
Jesus laat ons die moue oprol vir hierdie aarde!

Ernest