1 Petrus 2:11: “Geliefdes, in die wêreld is julle
vreemdelinge en bywoners.”
Jesus se opstanding en hemelvaart maak ons nie
wêreldvreemd nie. Dit anker ons weer in die werklikheid
van hierdie aarde. En tog maak dit ons ook weer los van
hierdie aarde. Waarom? Omdat ons weet dat God met
die verlossing van hierdie aarde begin het en dit eers
met die wederkoms van Jesus sal voltooi.

Daarom worstel ons aan die een kant om die verlossing
van die aarde, maar aan die ander kant kyk ons tog vooruit
na die nuwe aarde en die nuwe hemel. Op hierdie aarde bly
ons egter steeds vreemdelinge en bywoners, en tóg is ons
nie wêreldvreemd nie! Daarom kan ons nooit gladweg inpas
en aanpas by die sondige strukture van hierdie wêreld nie.
Ons bly altyd op pad na ons eintlike woonplek: die nuwe aarde!

Bogenoemde is treffend deur die eerste Christene gedemonstreer
in hulle leefwyse in hierdie wêreld. In ‘n brief van ene Diognetos
uit die jaar 150 n.C. lees ons hierdie aangrypende verwysing na
Christene en hul leefwyse en getuienis in die wêreld:
“Hulle woon in hulle eie land, maar as vreemdelinge...
Elke vreemde land is hul vaderland en elke land is vreemd
aan hulle...
Hulle deel hulle tafels, maar nie hulle beddens nie.
Hulle vertoef op aarde, maar is tuis in die hemel.
Hulle gehoorsaam die vasgestelde wette,
maar in hulle eie lewe oortref hulle die wette!
Hulle hou van almal, maar word deur almal vervolg...
Hulle is self arm, maar maak vele ander ryk.
Hulle kom alles kort, maar het tog in alles oorvloed.
Hulle word onteer, maar die ontering strek hulle tot roem.
Hulle word gesmaad, maar hulle seën.
Hulle word beledig, maar hulle bewys eer...
En diegene wat vir hulle haat, kan geen rede
vir hulle vyandskap verstrek nie.”

Christene is vreemdelinge op aarde.
Hulle pas nooit gladweg in of aan by die sondige wêreld nie.
Bogenoemde brief van Diognetos bevestig dit oor die vroeë
Christene. Vandag nog leef kinders van God só.

Ernest