“Ek beveel vreugde aan”. So skryf Prediker in hoofstuk 8.
Hy maak nie hierdie opmerking so half in die verbygaan nie.
Dit is Prediker se ernstige advies en voorskrif aan mense wat
in die harde werklikheid van hierdie lewe geluk wil smaak.
Vreugde maak die lewe die moeite werd.
Vreugde wat God gee. Vreugde wat met die opstanding
van Jesus Christus ‘n werklikheid in ons lewe geword het.

Vreugde loop soos ‘n goue draad deur die Bybel.
God het nog altyd vreugde vir sy kinders bedoel.
Oor en oor vertel die Bybel van die vreugdevolle God
wat ons dien. Die Psalms borrel oor daarvan.
Al sy kinders jubel oor sy Naam. So behoort dit te wees.

Johannes kan nie uitgepraat raak hieroor as hy in Openbaring 4
sy reis na God se hemelse wêreld aanpak nie. Hy sien die skares
voor God se troon wat voor Hom buig en sy Naam met vreugde
aanroep. Johannes hoor ook die vreugde-roepe op hulle lippe as
hulle voor Jesus kniel om Hom te aanbid as die Een wat mense
vrykoop uit elke stam en volk en taal – Openbaring 5.

Vreugde is die hart van geloof. Vreugde oor die opstanding en
die nuwe lewe in die Here! Dit is wat God van ons vra oor die
nuwe lewe wat Hy gee. Vreugde! Vreugde is ook wat Hy kwistig
aan ons uitdeel om uit te leef teenoor Hom en ander mense.
Ja, jy het reg gelees. God gee vreugde weg! Arms vol daarvan.
Elke dag vir jou om uit te leef. God is glad nie spaarsamig met
vreugde nie! Hy is immers die God van vreugde. Hy deel dit
oorvloedig met almal wat voor Hom buig. Vreugde is God se
groot geskenk aan jou. Nuwe lewe en vreugde!
Hoeveel vreugde leef jy uit in jou lewe?
Ontdek weer die vreugde wat God jou gee
en wat Hy wil hê jy in moet leef!
Lééf! Met vreugde!

Ernest