Hoekom is vreugde so belangrik in die lewe van
‘n kind van die Here? Vreugde het alles te make met
‘n lewe van geestelike oorvloed. En dit is wat die Here gee!
Kom ons wees eerlik: Vreugde is nie juis ‘n kenmerk van baie
gelowiges se lewe nie. Dit is nie asof elke tweede gelowige
oorborrel daarvan nie. Ouer mense sal ook sê dat dit eintlik
taboe was om in ‘n kerk te lag of “bly te wees”. Alles moes
met “waardigheid” gedoen word. Vreugde en spontane uitings
van opgewondenheid was nie altyd “waardig in die huis van
die Here” nie.

Ons kan werklik vrolik wees in die teenwoordigheid van die Here.
Altyd en oral. Dit is hartseer dat soveel gelowiges so min vreugde
uitleef. Waarom leef ons dikwels vreugdeloos?
Dink daaroor ten opsigte van jou eie lewe...

Hoekom moet ons vreugdevol wees?
Verseker omdat God dit van ons vra en ons alle rede daartoe gee.
Sy seëninge. Sy genade. Sy liefde. Nuwe ewige lewe in Jesus Christus!
God is ernstig op soek na gelukkige gelowiges wat hulle vreugde in
Jesus uitleef en daarmee getuig van God se goedheid.

Ons moet besef dat ons, in Jesus, ons swaar godsdienstige juk
ingeruil het vir nuwe lewe en die ligte las van ‘n nuwe lewe in
die Here Jesus! Hy is op soek na volgelinge van Hom wat geleer het om
binne in hulleself oor te borrel van vreugde en hierdie blydskap uit te leef
as ‘n getuienis van nuwe lewe in Hom!
Vandag, en elke dag, kom soek die Here by jou die blydskap en vreugde
wat Hy reeds aan jou uitgedeel het, in sy genade en liefde vir jou!

Ernest