Bekommernis wurg vreugde dood. Punt.
Die Prediker sê dat vreugde die geheim vir ‘n gelukkige lewe is.
Maar ons wurg dit dood met ons bekommernis oor alles.
Waar kry ons die vreugde waarvan Prediker praat? Net een plek,
net een Persoon: By God. Prediker 2:26: “Vir die mens met wie se
lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap...”
Ons weet dat God dit alles vir ons kom gee het in Jesus Christus.
In Hom, is God nou tevrede met ons lewe. Ons in Hom en Hy in ons.
In Hom het God ons regverdig verklaar! God is die Bron van vreugde!
Hy ís vreugde en Hy géé vreugde. So is God!
Om God se soort vreugde te leef is nie so moeilik as wat ons dink nie.
Hy gee dit. Ons moet dit neem. Hý wil dit deur ons leef, deur die Heilige
Gees in ons. Vreugde is deel van die vrug van die Gees! - Gal. 5:22.
Vreugde kom nie uit jouself nie, maar is deel van die vrug van die Gees
wat in jou woon! Ware vreugde is nie iets wat ons kunsmatig fabriseer nie.
God gee dit! Lees weer bogenoemde Prediker 2:26. God gee dit!
Gaan haal dit by Hom! Vreugde in die Here! Dit is so maklik soos dit.
Nou hoekom het so baie Christene dan nie vreugde in hulle lewe nie?
Ons is te besig om ons eie soort vreugde te probeer skep, in plaas van
om uit God-gegewe vreugde te leef. Die groot struikelblok is dan gelowiges
se nommer een stokperdjie: Bekommernis! So baie gelowiges se lewe is
die ene stres! Ons word opgevreet deur ons eie kommer. Dan is die kans
bitter skraal dat God se vreugde in jou lewe heers. Wanneer ons van die
oggend tot die aand loop en bekommer oor môre en oormôre, asof God
nie werklik vir ons sorg nie, en nie werklik in beheer is, en vir ons omgee nie,
sal ons weinig van die vreugde beleef wat God aan ons wil gee.
Vreugde in die Here is die geheim van die lewe! Daarom skryf Paulus ook
in Filippense 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”
Let op: “altyd” – net God gee deurlopende ware blydskap.
“...in die Here” - Hy gee dit in Jesus. Let ook op die herhaling en die
uitroeptekens. Dit is ‘n opdrag! Hy verwag dit van jou. Hy gee dit en wil hê
dat jy dit as ‘n getuienis moet uitleef, in opregtheid. Vreugde is ‘n realiteit
as jy “in die Here” leef! Daarom is vreugde ook deel van die vrug van die
Gees in jou! God gun jou vreugde en wil hê dat jy dit moet uitleef, én Hy
rus jou toe deur die Heilige Gees om dit te kan doen!
Wat kies jy? Vreugde in die Here, of bekommernis?
Sonder God se soort vreugde is jou lewe besaai met negatiwiteit
en swartgalligheid. Hou in hemels naam dadelik op om ‘n slagoffer
hiervan te wees. Dit is jy wat dit kies. Hou op om jou te bekommer!
Deurlopende bekommernis is eintlik ‘n mosie van wantroue in die Here!
Gaan vandag nog na die Here toe en vra vir sy vreugde,
en leef dan daaruit!
Lééf jou hemelse vreugde wat jy in die opstanding van Jesus en jóú
opstanding saam met Hom ontvang het!
Lééf in die vreugde van die Here!
Ernest