Jy koop nou tog nie ‘n duursame horlosie, teen ‘n fraksie van
die prys, by die man op die straathoek wat daarmee smous
tussen die motors, en dink dan dit is die ware Jakob nie. Dit is
om jouself met ‘n slap riem te vang...
Tog doen mense dit in hierdie wêreld ten opsigte van vreugde.
Ons moet besef dat daar ook goedkoop nabootsings van vreugde
is. Baie mense is tevrede met die wêreld se namaaksels van vreugde.

Hoe onderskei ons God se soort vreugde van die namaaksels wat
op die wêreldmark is? Hier is ‘n paar riglyne:
Vir die wêreld is vreugde afhanklik van gunstige uiterlike omstandighede.
Jy is gelukkig en het vreugde as jy gesond is, as jy veilig voel, as almal van
jou hou. As “dinge in plek is”, wat jou betref, is jy gelukkig en het vreugde.
Vreugde is verder die hoeveelheid mooi dinge wat jy besit.
Vreugde is ook volgens die wêreld ‘n reaksie. Dit hou net solank as wat
bogenoemde hou. Sodra jy dinge begin verloor, of swaarkry, verdwyn
vreugde soos mis voor die son.

God se vreugde wat hy vir jou bedoel lyk totaal anders.
God se vreugde is nie van jou uiterlike omstandighede afhanklik nie.
Jy kan werklik onder alle omstandighede bly wees en vreugde ervaar.
“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly” – Fil. 4:4.
Jy leef uit die wete en die sekerheid dat God altyd by jou is, in jou
omstandighede, ongeag jou omstandighede. ‘n Siekbed of armoede
laat nie jou vreugde soos mis voor die son verdwyn nie.
God se vreugde is ook nie afhanklik van die hoeveelheid aardse besittings
nie. Die Bybel waarsku juis dat ‘n beheptheid met uiterlike dinge vreugde
demp en uiteindelik steel.
God se soort vreugde is verder ‘n blywende toestand. Sy vreugde bly in
jou as deel van die vrug van die Gees, die Gees wat in jou woon!
Die vreugde in God is nie afhanklik van jou gemoedstoestand nie.
Ook nie van jou wisselende emosies nie. Die Gees dra dit in jou lewe in,
en die Gees bly permanent in jou wat kind van God is! Hy is by jou, in jou,
in sonskyn dae en donker dae.

Gee nou met jou hele lewe vrye teuels aan God se vreugde!
Dit wat reeds in jou is! Die Gees van vreugde wat in jou leef en heers!

Ernest