Ons moet nie vreugde met vriendelikheid verwar nie.
Vreugde beteken nie noodwendig om heeltyd te lag en
uitbundig te wees nie. Dit is wel tekens van vreugde.
Maar vreugde is baie meer as dit. Die Here se soort
vreugde kom van binne af. Dit setel in jou hart en in jou
gedagtes. Dit is die resultaat van die Heilige Gees se
aanhoudende werk in jou. Vreugde bring innerlike kalmte
en geluk. Dit oorspoel jou lewe met rustigheid en met
innerlike krag. Vreugde omvorm en herskep gedurig
omdat die Heilige Gees dit in jou doen.
Vreugde kom van binne af. Dit sorteer die probleme hier
binne in jou uit waar dit ook soms soos ‘n slagveld kan lyk.
Die Heilige Gees neem jou onrustigheid weg en gee innerlike
kalmte en vreugde. Wanneer jy die Heilige Gees toelaat om
in jou te werk en beheer oor te neem, bring Hy jou gemoed
onder beheer. Hy vervang jou bekommerde hart met geloofs-
vertroue wat lei tot vreugde in die Here.
Vreugde vloei voort uit God se bemoeienis met jou!
Vreugde is die vaste wete, wat elke dag sterker en sterker in
jou groei, dat God met jou op koers is, en dat jou hand in sy
hand is. Dit maak ‘n fontein oop van innerlike vreugde wat
oorspoel na die res van jou lewe.
God se vreugde verander jou van binne af, en eers dan spoel
dit oor na jou gesig toe. Jou gesig word die egte vertoonvenster
van die vreugde wat binne in jou aan die gang is, God se vreugde!
“Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” – Psalm 37:4.
Ernest