Vier die lewe! Ook in die sleur van die lewe.
Gaan soek elke dag die mooi in die lewe. Doelbewus!

‘n Priester in die Middeleeue het op twee mans afgekom
wat besig was met bouwerk. Hy vra toe vir die eerste man:
“Wat doen jy?” Die man se moeë antwoord was: “Ek kap klippe”.
Die priester stap toe na die ander man toe en vra dieselfde vraag.
“Die man kyk met ‘n glimlag op vanwaar hy klippe kap en antwoord:
“Ek is besig om aan ‘n katedraal te bou.” Albei mans doen dieselfde
werk. Die een sien homself as ‘n klipkapper en die ander as ‘n
katedraalbouer. Wat ‘n verskil in lewens-benadering is dit nie!
Hoe jy jouself sien bepaal die waarde wat jy aan jou lewe en ook
aan die sleurwerk en moeilike van jou lewe gee.

Omdat ons almal kinders van ons hemelse Vader is,
ons hemelse Pa, kan ons verseker ook só leef in hierdie wêreld.
Maar, dan moet ons weet wié ons is! Katedraalbouers!
Ons moet ook weet wát ons wil doen: Om doelbewus die
lewe te vier! In sy volheid, wat ook beteken in sy sleurgang.
Ons moet óók weet aan Wie ons behoort! Aan God!
Die Engels druk dit mooi as volg uit:
Jou “belonging” bepaal jou “being” en jou “doing”.

Aan Wie ons as Christene behoort bepaal ons hele lewe en
ons uitkyk op die lewe! Dit behoort só te wees. Wat God van
ons dink verander verseker hoe ons oor onsself dink, en wat ons
wil doen, en hoé ons dit wil doen. Dit maak dat ons die lewe vier,
die lewe geniet, die regte dinge doen en waardeer, en die mooi van
die lewe raakleef.

Ed Stivender, ‘n Amerikaanse leraar, sê daar gaan eendag net twee
vrae aan ons gevra word: Het jy die God-gegewe lewe geniet? En,
het jy ander gehelp om ook die God-gegewe lewe te geniet?
Daarom, sê hy: “Jesus is die weg en die waarheid en die lewe...
van die fees van menswees.” Hy sê dit is hoe Lukas in sy Evangelie
die koninkryk van die hemel beskryf: Dit is soos ‘n fees! Gaan lees
gerus hoeveel keer Lukas oor feesvierings praat.

Dra jy dalk te veel bagasie saam met jou wat maak dat die lewe
te swaar vir jou raak? Natuurlik gaan dit soms swaar in die lewe.
Maar hoé sien jy God se God-gegewe lewe aan jou? Hoe leef jy dit
ook uit in die sleurgang van die lewe? Die lewe het verseker ook
betekenis in die swaarkry en gesukkel daarvan.
God is in alles by jou teenwoordig. Ons probleme is maar van korte
duur in die lig van die ewige lewe wat God gee. Onthou in álles:
God kyk met sagte oë na ons en sy hart klop warm vir ons.
Kyk daarom die lewe vierkant in die oë, en vier dit saam met God.

Ernest