Die marathon is seker een van die mees uitputtende wedlope.
Die Boston marathon is ook een van die bekendstes ter wêreld.
In die lente van 1980 was Rosie Ruiz die eerste vrou wat oor die
eindstreep gegaan het. Die lourierkrans is te midde van flitsende
kameras om haar gehang. Sy was ‘n totaal onbekende in die atletiek
wêreld. Dit het haar prestasie nog meer merkwaardig gemaak...
totdat mense onraad vermoed het en vrae begin vra het. Dit was
dan maar haar heel eerste wedloop! En ‘n oorwinning in een van
die bekendste marathons. En dit teen wêreldbekende atlete.

Verder het sy nie na liggaam gelyk soos iemand wat ‘n uitmergelende
marathon kan hardloop nie. Dit het nog meer vrae na vore gebring.
Niemand het haar ooit langs die pad gesien voor hardloop nie, behalwe
in die laaste kilometer, nadat sy skelm in die wedloop ingespring het!
Nou was daar wydverspreide belangstelling in haar! Om ‘n marathon
te wen sonder om ‘n marathon atleet te wees, kan nie ge-“fake” word
nie. Rosie het egter volhard om haar deelname te bevestig en ook gesê
sy sal weer aan ‘n marathon deelneem om dit te bewys. Dit het egter
nooit weer gebeur nie...
Mense het probeer om agter die kap van die byl te kom. Hulle het
agtergekom sy is ‘n sosiopaat. Sy het oortuigend en natuurlik gelieg
sonder enige gewetenswroeging, en selfs haarself deurgaans geglo.
En dit ten spyte daarvan dat sy hoogs intelligent was en normaal
voorgekom het.

Bogenoemde gebeure laat mens besef dat jy ook nie Christenskap
kan “fake” nie. Iewers het die evangelie ‘n manier om jou uit te vang.
Jy kan nie Christenskap “fake” sonder om uiteindelik uitgevang te word
nie. Al is dit dan die dag wanneer jy voor die Here staan. Jy kan dit egter
ook nie in hierdie lewe op ‘n daaglikse basis voor die Here “fake” nie.
Jy bluf net jouself...

‘n Kind van die Here kan nie anders as om as wingerdloot in die
wingerdstok ingeplant te wees nie. Jesus sê in Johannes 15:1:
“Ek is die ware wingerdstok...” In vers 4 sê Jesus: “Julle moet in My bly
en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die
wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.”

Ons moet uit die Rosie Ruiz-sindroom ontsnap. Ons moet nie onsself
probeer oortuig ons kan sonder die wingerdstok vrug dra nie. ‘n Loot
kan nie op sy eie leef nie, wat nog vrug dra.
‘n Kind van God wíl ook vrug dra! Die beeld van die wingerdloot wat
Jesus gebruik help ons ingrypend en dringend hiermee.

Die eerste en belangrikste is: Bly in die wingerdstok!
Om ‘n ander beeld te gebruik: Wees ingeprop en bly ingeprop by die
kragbron.
Hierdie “bly in Jesus” is ‘n lewenslange proses. Raak gereeld stil by die Here.
Jy sal nie voeding kry, en groei, en vrug dra wanneer jy nie die wingerdstok
toelaat om die voeding na jou te laat vloei nie. Jy kan nie eers sonder die
wingerdstok bestaan nie! ‘n Loot kan nie op sy eie bestaan en leef nie.
Wanneer jy tye saam met die Here afskeep, sal jy nie meer en meer soos
Jesus kan leef nie. Jy sal nie vrug dra nie. Ons moet Jesus uitleef!
Daarvoor moet ons meer en meer in Hom leef en groei soos ‘n loot in
die wingerdstok. Lees die Here se Woord, geniet tyd saam met Hom,
gesels met Hom, leer by Hom, leef saam met Hom, elke dag!
“Julle moet in My bly”, sê Jesus.

Ernest