‘n Nuwe mens is iemand wat uiteindelik word wat God
bedoel het hy of sy moet wees. ‘n Nuwe mens is om jou
ware self te wees soos God jou geskep het om te wees.
‘n Nuwe mens kyk minder na die verlede en sê minder
“ek is jammer”, maar kyk eerder baie meer na die toekoms
en roep uit: “Goeie genade, kyk wie ís ek in Christus!”

Nuwe mense vra nie wat Jesus sóú gedoen het nie.
Al was daar armbandjies wat baie mense gedra het en goed
daarmee bedoel het: “What would Jesus do?”
Nee, in plaas daarvan om te vra wat Jesus sóú gedoen het,
vra ‘n nuwe mens eerder wat Jesus sou wou hê hulle moes
gáán doen as nuwe mens. Die vraag: “Wat sou Jesus doen?”,
vra nie iets van jou nie, behalwe om Jesus se lewe te oordink.
Die vraag: “Wat sou Jesus wil hê dat ek moet gáán doen?”,
gee aan elke nuwe mens die opdrag van God om te gaan uitleef!
Pro-kreatief!
Paulus beskryf hierdie opdrag soos volg:
“Nuwe mense is bedienaars van die versoening in Christus!
2 Kor. 5:18 sê: “Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur
Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die
versoening toevertrou.” Wat beteken dit?
In die nuwe lewe, soos God daarna kyk en dit bedoel, is alles
verrassend anders! God het in Jesus Christus gesorg dat almal
huis toe kán kom. Ja, in God se huis kán almal ‘n tuiste vind.
Paulus stel dit in vers 19 so: “Die boodskap van versoening bestaan
daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het
en die mense hulle oortredinge nie toereken nie.”
Ons moet mense na God toe gaan leef!
Maar dit is nie net ‘n eendag-ding hierdie nie. Dit is ‘n nou-ding!
Jy moet nóú al anders leef en die bediening van die versoening uitleef.
Jy kan en moet, want jy is ‘n nuwe mens!

Die geheim van ons nuwe menswees lê in die woorde van vers 17:
“Iemand wat aan Christus behoort...”. Waar Christus is, is daar totale
verandering! Waar Christus in jou is, is totale verandering waar jý leef.
Jy is die sout, lig en suurdeeg vir Hóm in hierdie wêreld! Dit kan nie
anders nie! Dit in Christus in en deur jou, daar waar jý is en leef.

Die gebeure oor die MacDonald-clan van Skotland illustreer hierdie
waarheid mooi. Donald Gorm MacDonald, ‘n toegewyde kind van die Here,
was in Londen en is gevra om die burgemeester se banket by te woon.
Maar hulle het hom by die sogenaamde laer klas laat sit. In die middel van
die banket het iemand die burgemeester laat weet dat Donald Gorm eintlik
‘n grootse prins is, in Skotland, en dat hy juis in Londen is om met Koning
Henry VIII ‘n ooreenkoms te onderhandel! Die burgemeester het vinnig ‘n
boodskapper na Donald gestuur om hom te nooi om aan sy regterhand
te kom sit. Donald Gorm se antwoord is legendaries:
“Sê vir die burgemeester hy kan ontspan. Waar ookal MacDonald sit,
sit hy saam met Christus, en dáár is dit die hoof van die tafel.”

Dieselfde geld vir ons: Waar ook al Jesus is, is die hoof van die tafel,
en wie by Hom sit is ‘n nuwe mens, totaal herskep. En daarom tree jy
by Hom en saam met Hom totaal anders op.
Jy in Christus, en Christus in jou!
Lééf! Núút!

Ernest