“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars
deur Hom wat vir ons liefhet.” – Rom. 8:37.
Ons is meer as oorwinnaars, meer as wenners!
Dit het niks te doen met die feit dat ons geloof een
of ander heldedaad is nie. Let op die woorde dat ons
meer as oorwinnaars is “deur Hom wat vir ons liefhet.”
Deur Jesus! Deur Hom is ons meer as wenners!
Hy gee ons die krag om deur alle beproewings of
uitdagings staande te bly in sy oorwinning! Ja, nie net
staande te bly nie, maar selfs meer as oorwinnaars
daaroor te wees. Ons krag lê nie in onsself nie, maar
in Jesus in Wie ons glo. Niks kan ons ooit skei van die
liefde van God wat Hy in Jesus vir ons het nie – vers 39.

In die boek “Cold Sassy Tree”, deur Olive Ann Burns,
beskryf die oupa vir die kleinseun ten opsigte van die
krisisse van die lewe wat ons tref:
“Die lewe boelie ons, my seun, maar nie God nie.”
Dit is iets van wat Paulus in Romeine 8:37-39 sê.
Die lewe kan ons erg boelie, maar nie God nie.
Ons as mense misluk elke dag. Ons ly as gevolg van
onsself onder mislukte verhoudings, mislukte huwelike,
mislukking by die werk, en mislukking in gesondheid.
Mense beskou ook dikwels ander mense as ‘n mislukking.
Die meeste van ons kan ons daarmee vereenselwig dat
ons êrens in iets of iemand misluk het. Dit is moeilik om
met mislukking te “cope”. Ons beleef dit soms as ‘n groot
tragedie. Ons dink ons gaan nie regstel kans kry nie.

Om te weet jy is ‘n oorwinnaar in Christus help ons om
voluit aan te gaan met die lewe! Die lewe slaan ons soms
plat met sy houe, maar die lewe slaan ons nooit uit nie!
Ons staan in die krag van Christus op in oorwinning.
Niks kan ons van die liefde van God, wat Hy in Christus vir
ons het, skei nie! Ons kan rondtes verloor, maar nooit die
geveg nie. Christus het reeds oorwin, en ons saam met Hom.
Leef in die oorwinning wat Christus gee!

Ernest