Ons het gister gesien ons is soos boksers met yster-kenne,
nie glas-kenne nie. Ons kan in Christus slae vat. Ons krag lê
in Hom om weer en weer op te staan as ons platgeslaan was.
Die lewe slaan ons soms plat, maar nooit uit nie. Ons kan
rondtes verloor, maar deur Jesus se krag sal ons nooit die
geveg verloor nie. As jy ‘n rondte verloor het, of misluk het,
of as jy ervaar dat die lewe jou boelie, onthou dan:
Jy is meer as oorwinnaar in Jesus Christus!

Doen die volgende:

Staan weer op!
Die lewe bestaan uit val en opstaan. Die wat blý opstaan maak
iets van die lewe omdat hulle in die oorwinning van Christus leef!

Word stil by God.
Al is dit hoé moeilik, word wéér stil by God. Hy alleen verstaan alles.
Hy weet presies waarmee jy worstel. En as jy geen woorde vir die
Here het nie, lees die Psalms. Dit gee jou woorde wanneer jy geen
woorde het nie.

Neem ‘n ruskans.
Gaan stap, of speel, of ontspan net doelbewus. Dalk moet jy vir ‘n
paar dae wegbreek. Neem doelbewus ‘n ruskans.

Gesels met ‘n betroubare vriend of vriendin of familielid.
Ons kan nie alleen leef nie. Die Here het bedoel dat ons mekaar
moet ondersteun. “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier
uitvoering aan die wet van Christus” – Gal. 6:2. Ons het mekaar
nodig, en die Here bedoel dit so.

Vier die fees van die lewe! Ons het nóú vreugde nodig. Nou is die
tyd om gelukkig te wees. Leef nou die oorwinning in Christus.
Nie eers môre nie. Dink positief en leef dit doelbewus uit wat jy dink.
Die belangrikste is: Dink soos Jesus! Ons leer dit by Hom in sy Woord.
En leef dit dan uit soos Jesus dit uitleef. Natuurlik faal ons dikwels daarin,
maar bly volhard om soos Jesus te bly dink en te leef.
Meer en meer soos Jesus! Leef jou geloof uit dat jy weet “ek is meer as
oorwinnaar in Hom wat my liefhet.”

Paulus wil met Romeine 8:37-39 sê: Wanneer alles donker en uitsigloos lyk,
byt vas! Staan op! Niks kan jou van die liefde van God in Jesus Christus skei
nie! Niks nie!

Ernest