Dit is een van die belangrikste gevolge daarvan
om lid van die liggaam van Christus te wees.
Ons gee om vir jou en jy gee om vir ons.
Ons gee om vir mekaar! Om ‘n lid van die liggaam
van Christus te wees sê baie belangrike dinge:
Ons maak jou ‘n beter ek.
In die geloof gaan dit om “ons” eerder as “ek”.
Wanneer jy die “ons” liefhet, raak jyself ‘n beter “ek”.
Neil Diamond het gesing: “It is not about you and it is
not about me, it is all about we.” Toepaslike woorde.
Die Afrika-teoloog, John Mbiti, het geskryf dat die
Afrika beginsel van “ubuntu” iets beskryf van wat
Jesus lankal bedoel het met die kerk of gemeente.
“Ek is omdat ons is.” Die diepste betekenis van die
woord “ubuntu” is: ‘n Mens is ‘n mens oor ander mense.
Die Here bedoel ons vir mekaar en oor mekaar in terme
van sorg en omgee vir mekaar.
Ons het mekaar nodig.
Niemand is belangriker as iemand anders nie.
In die kerk is daar nie rangorde nie. Almal is voor die Here
ewe belangrik en spesiaal. Wellington, beroemd vir sy
oorwinning by Waterloo, het in die kerk gaan aanbid.
Toe ‘n skoonmaker instap en langs hom kniel om te aanbid
was hy verbaas dat dit Wellington was. Hy wou dadelik
opstaan en uitgaan. Wellington het hom gekeer en gevra
om saam te aanbid en gesê:
“Vriend, in die kerk voor God is almal gelyk.”
Daar is net een van jou in die wêreld. Die kerk het jou
uniekheid nodig. Dit is die Bybelse boodskap.
Ons doen dinge saam.
Ons bereik saam baie meer vir die Here as elkeen op sy eie.
Saam is ons sterk, maar op ons eie is ons swak.
Martin Luther King het onder andere ook oor die kerk gesê:
“We go further faster when we go together”. In die liggaam
van Christus werk dit so.
Ons gee om vir mekaar.
Ons dra gelyke sorg vir mekaar. 1 Kor. 12:25 beklemtoon dit.
Dit beteken letterlik om jou gedagtes en omgee op die ander
persoon te konsentreer. Ons dien mekaar sodat almal versorg is.
So funksioneer die Here se liefde deur ons.
Teresa van Avila het treffend geskryf: “Christus het geen liggaam
op aarde behalwe joune, geen hande behalwe joune. Jou oë is die
oë waardeur die liefde van Christus na die seer van die wêreld kyk.
Jou voete is die voete waarmee Christus wil gaan goed doen.
Jou hande is die hande waarmee Hy nóú wil seën en sorg.”
Leef as lid van die liggaam van Christus!
Ernest