Iemand het na jou toe gekom, Iemand wat verwerp was,
en geminag was. Hy het gesê dat Hy gekom het om die
vriend van die minstens, die laastes, die verlorenes, die
sondaars en die uitgeworpenes te wees. Hierdie Iemand
was Jesus Christus. Dit is die waarheid van Iemand wat
deur almal verwerp is, maar in die proses niemand self
verwerp het nie. Hy het sy hande opgesteek vir my,
om aan die kruis vasgespyker te word vir my. Jesus ken
jou by die naam. Hy sê jy is sy vriend!
In Johannes 15:15 lees ons dat Jesus in sy eie woorde sê:
“Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n
ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee,
Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader
gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”
Om presies die omvang van Christus se woorde
“Ek noem julle vriende” te verstaan, moet ons die agtergrond
van sy woorde verstaan. Daar was in Jesus se tyd ‘n sekere
gebruik by die Oosterse konings en die Romeinse keisers in
omloop. In hierdie koninklike hofhoudings was daar ‘n handjievol
mense wat bekend gestaan het as die vriende van die keiser of die koning.
Hierdie vriende het te alle tye vrye toegang tot die keiser gehad. Hulle kon
selfs aan die begin van die dag by sy slaapkamer instap! Die koning of die
keiser het met sy vriende gepraat nog voor hy met sy generaals, sy leiers
en sy ministers gepraat het. Die vriende het die nouste kontak met die
keiser of die koning gehad.
Teen hierdie agtergrond noem Jesus ons sy vriende. Ons het vrye toegang
tot Hom, te alle tye, en Hy praat met ons oor wat op sy hart is, vir óns!
Kan jy nou verstaan hoekom dit so spesiaal is om te kan sê:
“Ek is ‘n vriend van Jesus Christus”?
Ons kan enige tyd na Hom toe gaan. Regtig! Vir so ‘n Vriend moet ons tyd
maak en kosbare tyd saam met Hom deurbring! Ons geestelike lewe bly
arm wanneer ons die geleenthede laat verbygaan om kwaliteit tyd saam
met Jesus deur te bring. Ons weet ook dit is deel van die basis van ware
vriendskap. Jesus noem ons vriende! Is Jesus jou beste Vriend?
Pous Johannes Paulus ll het hierdie treffende woorde gesê:
“Christus stap deur die eeue langs elke generasie, langs elke mens.
Hy loop langs elke mens as ‘n vriend! ‘n Belangrike dag in ‘n jongmens
se lewe is die dag waarop hy of sy oortuig word dat Hy die enigste
Vriend is wat hom of haar nie sal teleurstel nie, op Wie hy of sy altyd
kan vertrou.”
Jy is ‘n vriend van Jesus! Hy sê Self so!
Ernest