Heiliges waag met die wêreld. Heiliges se behoefte aan
‘n beter wêreld, ter wille van die Here se wil, mag nie opsy
geskuif word omdat ons as mense beperkings het nie.
Heiliges is “risk-takers”. Dit beteken hulle reik uit na nuwe
en innoverende geleenthede. As heiliges is ons nie “care-takers”
nie, dit is mense wat altyd tevrede is met die status quo. Ons is
ook nie “under-takers” nie. Dit is mense wat eerder elke uitdaging
of verandering so gou as moontlik begrawe om daarvan te probeer
vergeet. Nee. Ons waag met die wêreld en in die wêreld.

Heiliges is die “risk-takers” wat oral dieselfde optreë in terme van
betroubaarheid, maar ook anders in terme van kreatiewe geleenthede.
As heiliges is ons nie bang om te waag ter wille van die koninkryk van
God nie. Ons weet klein dinge word groot dinge in God se hand!
Die pad na heiligheid loop altyd deur die gewone aksies wat die
Here aan ons toevertrou. Die alledaagse lewe!

‘n Goeie voorbeeld was dr. Albert Schweitzer, die beroemde
sendeling dokter en Nobelprys wenner in 1952. Een middag op
‘n Chicago stasie het honderde mense en verslaggewers hom
ingewag vir sy besoek aan Amerika. Terwyl die skare om hom
saamdrom en die kameras flits, het hy na buite die kring van
roem beweeg om ‘n swart ou dame te help om haar tas te dra
en haar in ‘n bus te help. Hy het teruggeloop na die verslaggewers
en die verwelkomings-party en gesê dat hy jammer is hulle moes
vir hom wag, maar hy het ‘n ou dame gesien wat swaarkry...
Een van die verslaggewers het geskryf dat dit die eerste keer is
dat hy ‘n lopende preek gesien het.

Dit is wat heiliges doen. Verteenwoordigers van die Here steek
grense oor. Hulle reik uit. Hulle lewe getuig! Selfs sonder woorde.
Jy is ook ‘n heilige. ‘n kind van God, afgesonder en aan Hom gewy
met jou hele lewe.

Leonardo Boff het gesê dat elke heilige ‘n nuwe vergeefde verlede
het, en ‘n blink nuwe toekoms, sodat hy van die hede ‘n stuk hemel
op aarde maak. Heiliges is nie bonatuurlike of onnatuurlike mense
of helde nie. Heiliges is gewone mense wat met hulle lewe dit vir
ander gewone mense makliker maak om te glo dat God leef,
en dat Hy ons werklik liefhet.

Gaan uit...en reik uit, en leef heilig! Die roeping om heilig te leef is
‘n roeping om in hierdie wêreld te leef.
En dit loop deur die wêreld van dade.

Ernest