In 2 Kor. 4:7-15 lees ons ‘n treffende deel oor hoe
ons heelgemaak is. Paulus noem ons kleipotte wat
maklik breek. Maar ons is heelgemaakte kleipotte.
Lees asseblief hierdie hele gedeelte uit die Woord
van die Here!

Vers 7 sê ons is gebreekte kleipotte uit wie God se lig skyn.
God se lig kom deur die krake in ons lewe in, en verdryf die
duisternis, en God se lig skyn ook deur die krake na buite.
God laat die lig van sy liefde uit ons skyn om die donkerte
uit ander se lewens te laat verdwyn.

Vers 8a laat ons besef dat ons in hierdie lewe op baie maniere
onderdruk is, maar van tou opgooi is daar by ons gee sprake nie!
Scott Peck begin sy beroemde boek “A Road Less Travelled” met
die woorde: “Life is difficult.” Die boek het onder andere bekend
geraak deur hierdie eerste sinnetjie! “Life is difficult.” Ons dink dit
is voor die hand liggend. Maar ons vergeet dit so maklik. En baie
keer dink kinders van die Here dat hulle net op plat water behoort
te vaar, en nie storms in die lewe behoort tegemoetgaan nie.
Moet dit nooit vergeet nie: “Life is difficult.” Tog weet ons,
en dit is uiters belangrik, dat ons as kinders van die Here nooit
alleen is in hierdie lewe nie! Daarom dat ons nie eers daaraan dink
om tou op te gooi nie. Ons is tot alles in staat deur Christus wat ons
krag gee.

Ons is soms radeloos, maar nooit sonder hoop nie, sê vers 8b.
Daar is ook tye in ons lewe wanneer ons as kinders van God regtig
nie weet wát om in die spesifieke situasie te doen nie. Maar ons
twyfel nooit dat ons deur die krag en wysheid wat die Here gee iets
sal kan doen nie. ‘n Russiese spreekwoord sê: “In die land van hoop
word dit nooit donker nie. ‘n Mandjie vol hoop is beter as ‘n skuur
vol graan.” Hoop weet God is hier, en Hy kan en wil help. Dit is egter
nie noodwendig altyd soos ons dit sou wou hê nie. God weet beter.

Jy word vervolg deur mense, maar God laat jou nooit in die steek nie,
sê vers 9a. Mense is seker dit wat ons die seerste kan maak.
Joan of Arc het by geleentheid gesê: Dit is beter om alleen saam met
God te wees as by mense wat jou keer na keer in die steek laat.
Sy vriendskap sal jou nie in die steek laat nie, ook nie sy raad en sy
liefde nie. In sy krag kan ons waag en waag en waag...
God sal jou nie in die steek laat nie!

Ons word platgeslaan, maar nooit uitgeslaan nie, vers 9b.
Ons staan weer en weer op in die krag en genade van die Here.

Ons is kleipotte wat maklik breek, maar die Here sit ons weer
aanmekaar, vers 10. Ons dra die sterwe van Christus, die kruis,
in ons rond. Maar ons is heelgemaak! Ons dra ook die lewe van
Christus, die opstanding, in ons rond! Hierdie wete laat ons
voluit lewe! Vier die lewe met hierdie wete!
Ernest Hemmingway het gesê dat die wêreld almal breek,
maar na die tyd is sommige sterker op die gebreekte plekke.
Dit is waar van kinders van God.
Die mens is gebreek. Hy leef weer deur heelmaking.
Die genade van God is die gom. Ons is heelgemaak. Deur God!

Ernest