Lukas 6:12: “In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg
toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.”
Jesus bid hierdie nag, regdeur, in gebed tot God, voordat Hy
sy dissipels kies! Vóór Hy sy twaalf apostels aangestel het,
het Jesus intens daarvoor gaan bid. ‘n Hele nag in die berg,
om te bid! Dit moet vir ons baie sê oor gebed voor belangrike
besluite. Afsondering en gebed om die leiding van die Here
te vra, én te volg, in ons besluite. Ook nie net oor groot
besluite nie, maar alle besluite in ons lewe. Ons is só afhanklik
van God. Ons moet dit nie net ervaar in sy konkrete sorg vir ons,
wat ons met die oog kan sien of “eet” nie, maar ook in keuses wat
ons moet maak. Besluite wat ons lewe bepaal.

Deurnag in gebed? Is dit moontlik om so lank te bid? Dit is nie wat
spesifiek hier van ons gevra word nie. Wat ons egter oor kan dink is
of die gebed net oor Jesus se behoefte gegaan het, van die keuse
van sy dissipels. Die probleem is dat ons dikwels net tyd in gebed
by God deurbring oor óns behoeftes en keuses. Die teks sê dit nie,
maar ons kan net dink dat Jesus se tyd in gebed al die elemente
van gebed bevat het: Aanbidding, lofprysing, danksegging,
voorbidding, en belydenis of smeking.
Dink na oor hoe ons gebede lyk. Gaan dit eintlik oor jou, of gaan
dit daaroor om God te verheerlik met jou gebede en besluite?

By hierdie geleentheid moes Jesus bid voor belangrike keuses wat
Hy moes gaan maak. Die kies van sy dissipels. ‘n Keuse oor die
toekoms van sy kerk. ‘n Keuse wat ook sy eie toekoms sou behels,
sy lyding en sy kruisiging. Hy kies nie net mense wat die evangelie
die wêreld moes indra nie, maar Hy kies ook die een wat Hom sou
verraai. Wie sou kon begryp wat Hy alles oor en vir Judas gebid het?
Die klem val egter, vir vandag vir ons, op die feit dat toe Jesus voor
een van die grootste beslissings in sy lewe op aarde gekom het,
doen Hy dit nie sonder en vóór ernstige gebed nie.

Ook ons moet geen besluit neem voor ernstige gebed nie.
Van sommige moeilike sake en besluite weet ons vooraf.
Ons kan en moet doelbewus daarvoor bid. Ander besluite en
keuses kom onverwags oor ons pad. Ons dink dikwels nie eers
daaraan dat ons ‘n bepaalde besluit uitvoer nie. Maar ook daarvoor
bid ons, dat ons deurgaans onder die leiding van die Heilige Gees se
beheer sal leef. In al ons besluite! Oor dit nou oor groot dinge is,
of bloot dinge soos ons reaksie teenoor mense in spits verkeer...
Daarom moet ons regtig geen dag binnegaan sonder gebed en ‘n
leefwyse van gebed nie. Of iemand nou voor ons staan en kos vra,
en of dit nou vir ‘n oop parkering naby die winkel is...
Ons is vir alles afhanklik van God. Eer en verheerlik Hom daarmee.
Bid vir jou besluite!

Ernest