Jesus het by twee geleenthede duisende honger mense gevoed.
Behalwe dat Jesus die brood vermeerder het, het Hy ook “verlamdes,
blindes, gebreklikes, dowes en baie ander” gesond gemaak, volgens
Matteus 15:30-31.
Die Here Jesus en die dissipels kyk egter nie na die skare met dieselfde
oë nie. Vir die dissipels is hulle ‘n verleentheid. Hulle enigste oplossing is:
“Stuur die mense terug”. Hulle het nie kos om vir hulle te gee nie, en voel
magteloos om die situasie te hanteer. Ons sou ook so voel en doen...
Maar vir Jesus is hierdie skare met hulle nood nie ‘n verleentheid nie,
maar eerder ‘n geleentheid. Hy maak hulle siekes gesond; Hy voed hulle
geestelik, want Hy onderrig hulle – Lukas 9:11. Hy voed hulle ook liggaamlik.
Hy het die antwoord op hulle behoeftes en Hy spreek dit aan. Hy het die
vermoë om in elke behoefte te voorsien. Filippense 4:19: “En my God sal
in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy oorvloedige rykdom in
Christus Jesus.”
Jesus doen dit omdat sy hart vol liefde, omgee, begrip en ontferming is.
Dit is regtig belangrik dat ons nou sal leer om met Jesus se oë na die
fisiese en geestelike nood van mense te kyk. Ons moet regtig nou leer:
Met Jesus in ons midde, hoef geen situasie ‘n verleentheid te wees nie!
Want die wonderlike is dat Jesus nie aan sy dissipels sê “julle hoef niks
te doen, Ek sal sorg” nie, maar dat Hy aan hulle sê: “Gee júlle vir hulle
iets om te eet!”
Wat hulle aan die skare wil of gaan gee, sal hulle in elk geval van Jesus
ontvang. Die Here sal nie vir hulle sê om iets te doen wat Hy weet nie
vir hulle moontlik is nie. Wat hulle toe ook uiteindelik vir die skare gee,
hét hulle van Jesus ontvang! Maar húlle moes die gee-werk doen!
Die Here Jesus wil ons leer om nie na die nood van mense te kyk deur
ons bril nie, maar deur sy oë. Ons moenie met oë van kleingeloof en
gebrek aan begrip, en gebrek aan liefde kyk nie, maar volgens die almag
van die Here Wie ons volg, en sy vermoë, en sy liefde. Hy omskep elke
situasie vir ons in ‘n geleentheid, om Hom te dien, en God te eer.
Hy wil ons in elke situasie gebruik om uit te deel wat Hy wil gee,
en wat ons ook inderdaad van Hom ontvang!
Kom ons gaan kyk en doen deur Jesus se oë!
Ernest