Die wêreld waardeer nie gelowiges nie.
Hebreërs 11:37-39 sê iets hiervan: “Gelowiges...
het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in
grotte en in gate in die grond gelewe...oor hulle
almal (is) vanweë hulle geloof met soveel lof getuig.”
In Hebreërs 11 is met voorbeelde uit die Ou Testament
verduidelik wat ware geloof is, naamlik “om seker te wees
van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die
dinge wat ons nie sien nie.” – vers 1.
‘n Lang lys van gelowiges en hulle geloof word genoem.
Aan die einde van die hoofstuk word ‘n samevatting gegee
van wat hierdie mense alles moes verduur. Van die dinge
wat dan genoem word is dat hulle “rondgeswerf het in
woestyne en op berge en in grotte en in gate in die grond
gelewe het. Ter wille van hulle geloof is hulle gedwing om
hul plekke te verlaat en op ander plekke te gaan lewe.
Hulle was nie bereid om dáár waar hulle eers gelewe het,
hul geloof te verloën nie.
Vers 38 sê “Die wêreld was hulle nie werd nie”.
Dit kan op twee maniere verstaan word.
Vandag kyk ons na die eerste moontlikheid:
Dit kan beteken dat die wêreld nie hierdie gelowiges kon
waardeer nie. Die wêreld het geen begrip gehad van hulle
geloof nie en ook nie van die soort lewe, ‘n heilige lewe,
wat hulle leef nie. Daarom het die wêreld hulle uitgeban.
Hulle is selfs vervolg en dikwels is hulle dood gesoek.
Hulle moes vlug en swerf... hulle het die waarheid beleef
van wat die Here Jesus ook sou waarsku aan sy dissipels:
Hulle sou beledig en vervolg en belaster word – Matteus 5:11.
Dit is so...van mense wat in geloofsgehoorsaamheid aan
die Here lewe, is dit waar dat hulle die wêreld nie werd is nie.
Maar, en dit is belangrik, hoewel die wêreld die bydrae van
gelowiges verag, moet gelowiges volhard om te doen wat
hulle glo. Dit wat God van hulle verwag as sý verteenwoordigers
in hierdie wêreld. Gelowiges soek nie moeilikheid nie, maar hulle
deins ook nie terug in terme van die uitleef van hulle geloof nie.
en onthou: “So seker as wat God se kinders in die vuuroond beland,
net so seker is Hy daarbinne by hulle!” – Charles Haddon Spurgeon.
Ernest