Hebreërs 11:38: “Die wêreld was hulle nie werd nie.”
Kan gelowiges te goed wees vir hierdie wêreld?
Bogenoemde vers kan ook ‘n ander betekenis hê as wat
ons gister gesien het, naamlik: Dat die gelowiges eintlik te
goed was om in hierdie slegte wêreld te lewe. Dit is nie net
dat hulle uitgedryf was omdat die wêreld geoordeel het dat
hulle “pretbederwers” is nie. Of dat hulle “onsin” glo nie.
Eintlik was die wêreld so ‘n plek dat dit nie waardig was om
sulke mense te huisves nie. Die wêreld is so bedorwe dat dit
in werklikheid geen aanspraak het op hierdie heilige mense
met hulle mooi en opregte lewe nie. Die wêreld verdien dit
nie om sulke Godsmense te hê nie.

Maar die Here Jesus het ons kom leer dat sulke mense,
sulke gelowiges soos waarvan Hebreërs 11 praat, juis bitter
nodig is in hierdie wêreld! Al verstoot die wêreld hulle, en al
verdien die wêreld hulle nie, word hulle juis deur God se genade
verander om dié mense te wees wie Hy in hierdie wêreld wil plaas!

Die Here Jesus het hierdie treffende gebed daarvoor gebid:
“Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie...
Hulle behoort nie tot die wêreld nie ...Laat hulle aan U toegewy
wees...Soos U My na die wêreld toe gestuur het” – Joh. 17:15-18.

Juis in hierdie wêreld word gelowiges geroep om hulle roeping
as God se verteenwoordigers uit te leef. Juis hier is ons Jesus
Christus se sout, suurdeeg en lig. Elke gelowige wat dit uitleef bou
aan die lys van gelowiges wat in Hebreërs 11 genoem word. Ons almal!
Daar is nie super gelowiges, of geloofshelde nie. Die Bybel praat nie in
Hebreërs 11 van “geloofshelde” nie. Geloof is ‘n gawe van die Heilige
Gees. Leef dit uit, daar waar jý die Here verteenwoordig, in jou unieke
omstandighede. Daar word ook jý deel van hierdie lys van gelowiges
wat deur eeue kom, en deur eeue deur God se genade en krag voortduur.
God wil jou so gebruik soos Hy elkeen van hulle gebruik het.
God doen dit ook deur jou! Glo jý ook, en doen deur Hom!

Ernest