Vervolgers van Christene kan uiteindelik geen blydskap daarin hê nie.
Maar die vervolgdes kan. Hulle kan die blydskap van geregtigheid hê.
Die prentjie wat die Hebreër skrywer in hoofstuk 11 teken van die
vervolging van gelowiges deur die eeue is donker.
Hulle is doodgemartel, bespot, het lyfstraf ontvang, is geboei, in
gevangenisse gewerp, met klippe doodgegooi, in stukke gesaag,
met die swaard vermoor. Die wat wel kon ontsnap het in skaap-
en bokvelle rondgeswerf, gebrek gely, in woestyne rondgedwaal
en in grotte en gate gewoon – Hebreërs 11:35-38.
Dit laat ons net weer nadink oor die geleentheid en voorreg om
die Here te kan aanbid en dien sonder die vrees van vervolging
en die dood! Ons aanvaar dit eenvoudig as vanselfsprekend.
Ons moet dit egter met dankbaarheid weer herwaardeer.
Tog moes daar ook by hierdie mense geloofsblyheid wees.
Ten spyte van hul haglike omstandighede. Hulle moes seer
sekerlik iets ondervind van dit wat Paulus eeue later oor skryf:
Dat God, die Bron van hoop, hulle deur hulle geloof met alle
vreugde en vrede vervul – Romeine 15:13. Dink net daaraan...
rondgejaagde gelowige oorlewendes, honger swerwers...en tóg,
met ‘n onuitblusbare vreugde en vrede. Blydskap ten spyte van
erge vervolging.
Die vervolgers kan geen blydskap hê nie. Hulle weet en ken
dit nie eers nie. Hulle kan uiteindelik ook nie hulle doel op die
langtermyn bereik nie. Niks kan en sal ooit die boodskap van Jesus
Christus kan uitdoof nie. Veral ook nie húlle nie. Dit bly loop soos
‘n veldbrand, al loop dit deur vuur. Die vervolgers kan geen blydskap
hê nie, maar die vervolgdes kán! Die Here Jesus sê diegene wat vervolg
word omdat hulle doen wat reg is, is salig – geseënd! Hulle moet bly en
verheug wees want hulle loon is groot in die hemel! – Matteus 5:10-12.
Leef jy met geloofs-blymoedigheid, ten spyte van moeilike
omstandighede waarin jy moontlik jóú geloof moet uitleef?
Hou vas aan die perspektief wat Heb. 11 en Matteus 5:10-12 jou gee.
En dan is daar die van ons wat onder die mees gunstige omstandighede
steeds bly kla...as gelowiges bly kla en kla...
Gaan dink weer oor die boodskap, en vir Wie jy dit dra!
Ernest