Die Bose is gedurig besig met slinkse planne teen die volk van God.
Die gelowiges. Die kinders van God. Ons sien dit in die Ou Testament
verhaal van Bileam en Balak. In die intog van die volk van Egipte na
Palestina wou die Israeliete vreedsaam deur die land van die Amoriete
trek. Die Amoriete val hulle egter aan en Israel verslaan hulle.
Dieselfde gebeur ook met Og, die koning van Basan.
Hierdie oorwinnings het groot gevolge gehad. Dit het vrees ingeboesem
by die ander omringende nasies. Dit was veral die geval met Balak en sy
Moabietiese volk. “Die Moabiete het baie groot geskrik vir die Israeliete...
hulle het bang geword...en gesê: “Hierdie horde gaan alles rondom ons
opvreet soos beeste die gras in die veld opvreet” – Num. 22:3-4.
Balak dink toe aan ‘n slinkse plan. Hy sal Israel op ‘n ander manier as met
oorlog kragteloos maak. Hy sal iemand met magiese krag kry om hulle te
vervloek deur ‘n vloek oor hulle uit te spreek! Met so ‘n vloek oor hulle
kan selfs hulle God hulle nie meer help nie, want, die vloek is sterker as Hy!
Die wêreld het steeds slinkse planne en vloek planne met kinders van God,
asof dit sterker is as God...
Balak laat haal vir Bileam, en hy sê vir hom: “Ek weet: wie jy seën, is geseën
en wie jy vervloek, is vervloek.” – Num. 22:6. Die Bose bedink baie planne
om God se volk onder te kry. Veral as God se kinders oorwinnend lewe!
Die wêreld sal elke moontlike metode beproef en elke moontlike plan inspan
om God se kinders onder te ploeg. Veral as ons oorwinnend lewe! Dan is ons
vir die wêreld ‘n bedreiging. Elke gelowige moet elke dag weet:
“Die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry” – Genesis 4:7.
Wie is Bileam? Dit lyk op die oog af asof hy ‘n groot profeet van die Here was.
Maar, waarskynlik was sy godsdiens ook bietjie deurmekaar met heidense
praktyke, want Josua 13:22 noem hom ‘n waarsêer. Die Bose sal egter selfs
kinders van God probeer misbruik, teen ander kinders van God! Maar, selfs al
beloof Balak hom ‘n groot vergoeding is sy antwoord: “Selfs al gee Balak vir
my sy paleis vol silwer en goud, mag ek niks doen, klein of groot, teen die
opdrag van die Here my God nie.” – Num. 22:16-18.
Hy vat nie die aas van rykdom nie.
Maar, hy is aan die een kant kamma vroom, en tog ook besig met heidense
praktyke. Net die persoon wat die Bose kan misbruik! Hy dink dat sy heidense
praktyke hom kan help om God se wil te ken.
Jesus waarsku teen sulke mense: “Hulle kom na julle toe in skaapsklere,
maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe” – Matteus 7:15.
Bileams is gevaarlik. Kyk uit vir hulle. Môre meer oor hulle...
Ernest