Ons moet fyn luister of iemand wat beweer dat hy ‘n
boodskap van God het, regtig ‘n boodskap van God het.
Ons sien dit vandag as ons verder kyk na wat Bileam doen.
Wanneer koning Balak se boodskappers by hom aankom,
met die koning se beloning, en hulle vir hom vra om Israel
nou te vervloek, antwoord Bileam hulle:
“Bly vannag oor, dan sê ek môre vir julle wat die Here vir my
sal sê” – Num. 22:3-8. Let op, “sál sê”, asof hy klaar weet wat
die Here gaan sê. Dit klink baie vroom. Hy wil homself voorstel
as iemand wat in noue kontak met die Here leef. Iemand wat
niks doen voordat hy nie eers die Here raadpleeg nie...
As hy ‘n ware profeet was, kon hy tog dadelik geweet het dat
hy nie aan die versoek van ‘n heidense koning kan voldoen om
God se volk te vervloek nie. Dit is nie nodig om eers ‘n nag
daarop te slaap nie.
Ons lees ook nie spesifiek dat Bileam God geraadpleeg het nie.
Inteendeel! Dit is God wat aan hom verskyn en duidelik aan hom
sê: “Moenie met hulle saamgaan nie. Jy mag dié volk nie vervloek nie,
want hulle is geseën.” - Num. 22:12. Maar Bileam sê nie die volgende
oggend vir die boodskappers wat God gesê het nie! Hy sê net:
“Die Here wil nie hê ek moet saam met julle gaan nie.” Die tweede
deel van die gesprek dat hy Israel nie mag vervloek nie, word niks oor
gesê nie. Hy laat die belangrikste deel van die gesprek doelbewus weg.
Só ‘n dubbelsinnige en weifelende houding gee aan die Bose
‘n gaping wat die Bose sekerlik nie onbenut sal laat nie!
Ons gee ook baie maklik aan die duiwel die kans waarna hy soek.
Ons sê net die halwe waarheid. Of ons wil gewild by iemand bly en sê
wat hy of sy graag wil hoor. Ons moet ons oortuiging in die Here en
die Here se wil sterk en ondubbelsinnig oordra. Ons moet die Woord
van die Here daarin bybring. Elke antwoord en oortuiging van ons moet
steeds die volle “so sê die Here” wees!
Ernest