God wil hê dat ons rekenskap kan gee van ons doen en late.
Hy wil hê ons moet nadink en onsself afvra: Is ek nou in die
regte geselskap? Is ek nou op die regte plek? Wat is die rede
vir druk op my om hier te wees?
Ons sien dit in die gebeure tussen Bileam en Balak. Toe Balak
verneem dat Bileam weier om na hom toe te kom, het hy nie
moed opgegee nie. Israel moet ten alle koste vernietig word!
Hy stuur ‘n tweede afvaardiging na Bileam om nog meer druk
op hom toe te pas. Meer mense en met hoër aansien. Bileam
móét kom om Israel te vervloek! Sy beloning sal groot wees.
Ons word ook by geleenthede onder druk geplaas om dinge te
doen wat nie ons oortuiging is nie. Weer antwoord Bileam ewe
“vroom” dat hy nie omgekoop sal word nie. Hy mag niks teen
God se opdrag doen nie. Maar weer herhaal hy sy vorige onnodige
versoek: “Maar bly julle ook ‘n nag oor dat ek kan uitvind of die Here
weer met my wil praat.” Hy wéét klaar wat die Here se wil hierin is,
en nou skep hy weer ruimte vir versoekings van die Bose. Dit was van
die begin af duidelik dat die Here nie wou gehad het dat Bileam aan
die versoek van Balak moet voldoen nie. Daarom het Hy al by die eerste
afvaardiging se besoek aan Bileam gevra:
“Wie is die manne hier by jou?” – Num. 22:9. Dit beteken nie dat God
nie weet wie hulle is nie. Hy wil egter hê dat Bileam moet rekenskap gee
daaroor, dat hy mooi moet nadink, en dat hy homself sal afvra:
Is ek nou in die regte geselskap? Doen ek nou die regte ding? Gee ek nou
toe aan druk, téén God se wil in?
Hy gee nou al blyplek aan mense onder sy eie dak wat hulp kom soek om
God se volk te vernietig! Maar hierdie waarskuwings gaan by Bileam verby.
Besef hy enigsins dat God besig is om hom te waarsku? Eintlik dink hy net
aan homself...
Is ons nie dikwels ook so onverskillig, ongevoelig, stompsinnig en stiksienig
vir God se duidelike waarskuwings en leiding deur die Heilige Gees nie?!
God moet nou so ver gaan om ‘n donkie te gebruik om Bileam tot sy sinne
te kry. Hoe ver sal God nie met ons gaan in sy genade nie!
Op pad na Pisgaberg wag die Engel van die Here met ‘n ontblote swaard
vir Bileam, in die pad! God verskyn op ‘n besondere wyse om sy wil aan
Bileam bekend te maak. Tot drie maal toe gaan staan die Engel in Bileam
se pad om hom op sy dwase weg te keer. Maar Bileam sien nie eers die
Engel nie! Die donkie sien wél die Engel! Kan jy glo! Iemand sê dat ons so
eiewys kan wees dat ons swakker insig en sig het as ‘n donkie...
Die donkie draai uit die pad uit. Bileam slaan hom terug op die pad.
Die donkie skuur toe teen ‘n muur om verby te kom. Weer slaan Bileam
die donkie. Toe gaan lê die donkie... Bileam word so kwaad dat hy die
donkie met ‘n stok slaan – Num. 22:23-27. Maar steeds sien Bileam nie
wat die donkie sien nie!
Hoe stompsinnig en stiksienig kan ons nie wees nie. Ons kan so ingestel
wees daarop om ons eie wil uit te voer, dat ons nie die duidelike aanwysings
van God se wil raaksien nie, of wíl raaksien nie. Niemand is so blind as hy wat
nie wil sien nie! Hoe dikwels tree ons nie ook so op nie! Dan slaan ons nog,
soos ‘n donkie, die mense wat ons daarop wil wys dat ons nie die Here se wil
doen nie. Dan is ons al verby die stadium wat ons God se stem kan of wil hoor.
Hieroor sê Jesaja 30:21: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou
‘n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”
Die Heilige Gees sal met jou bly praat. Sal jy luister?
Here...help ons!
Ernest