Hoe koppig en onversetlik kan ons nie wees nie!
Om Bileam tot sy sinne te bring gaan God so ver as om
die donkie se bek oop te maak dat hy kan praat! Selfs dit
ruk nie die skille van Bileam se oë af nie. Niemand is so blind
as hy wat blind wíl wees nie! Bileam, die siener, kan nie sien nie.
God gryp direk in en Bileam sien uiteindelik die Engel. Uiteindelik
buig hy voor die Engel. Let op dat Bileam nie regtig berou uitspreek
teenoor die Engel nie. Dit moes vir hom ‘n vernedering wees dat sy
donkie sien wat hy nie sien nie. As Bileam werklik berou gehad het
dat hy tot nou toe sy eie kop gevolg het, sou hy tog self besluit het
om om te draai en nié na Balak toe te gaan nie.

Die verskriklike moontlikheid is daar dat ‘n mens “koppig en onversetlik
in sy weiering om hom tot die Here te bekeer”, kan wees – 2 Kron. 36:13.
Dan gaan ons so ver om ons op die Here God te beroep, al is ons verkeerd!
Calvyn het geskryf dat God ‘n mens aan homself kan oorlaat, om sy eie
verkeerde en dwase pad te loop. Dit gebeur as iemand in die sonde volhard
en deur sy eie wil en begeertes aangedryf word, terwyl hy goed genoeg weet
dat dit teen God se wil is. Dat hy desnieteenstaande tog voortgaan om te
lewe soos hý wil, en nie soos God wil nie. Dit lyk of dit die geval met Bileam is.
Ons is immers ‘n wese met ‘n eie verstand en wil, juis deur God aan ons gegee.
God skep ons nie as marionette of robotte sonder ‘n keuse om op sy roepstem
en liefde te antwoord nie.

Bileam se “gevaarlike pad” van Num. 22:32 bring hom uiteindelik by Balak,
koning van Moab, uit. Maar dan herhaal hy wéér aan die koning:
“Ek kan net sê wat God vir my voorsê.” Wat!! ‘n Mens wil ten hemele uitroep:
Maar Bileam, waarom het jy dan gekom tot hier?! Dink jy werklik God sal jou
opdrag gee om sy eie volk te vervloek!?

Dit is vreemd, en dit gebeur vandag nog met ons, hoe ons ons nog op God
kan beroep terwyl ons weet dat ons op ‘n verkeerde en gevaarlike pad is.
Kom ons dink mooi na oor ons lewe. Ons koppigheid en ons onversetlikheid
oor dinge wat ons eintlik wéét verkeerd is. Kom ons verootmoedig ons opreg
voor die Here. Nie soos Bileam met gemaakte “vroomheid” nie...
maar met opregte harte, om soos klei in God se hand te wees.

Ernest