Bileam en Balak se verhaal in die Ou Testament boek van Numeri
leer ons baie oor God se verhaal en handelinge met sy kinders.
Balak probeer sy bes om God se volk vervloek te kry deur Bileam.
Numeri 23:1-12 gaan verder met die verhaal. Intussen woon die
volk van God rustig in die laer. Hulle weet van niks wat aan die gang
is om hulle vervloek te kry nie.
Die belangrike waarheid is die gebeure is: God weet!
En Hy weer die vloek en die ramp van sy volk af. Vandag kan ons
as kinders van God ook verseker weet: Geen vloek kan jou sommer
net tref nie! Christus het reeds vir jou elke vloek gedra! – Romeine 8:1.
Waar ons ookal beweeg of leef, God is ewe veel daar by sy kinders.
Een plek is nie heiliger as ‘n ander nie. Ons leef voor die Here en in sy
teenwoordigheid rééds op heilige grond. Ook dit is ‘n waarheid wat ons
uit die verhaal met Bileam en Balak kan neem - Verse 13-26.
In Johannes 4:21-24 leer Jesus ons of jy nou op die berg Gerisim aanbid,
of in die tempel in Jerusalem aanbid, dit maak geen verskil nie.
Die belangrike is dat jy deur die Gees en in waarheid aanbid.
Al Balak se verskillende planne het niks gehelp nie. As Bileam by Balak
terugkom sê hy dat God nie soos ‘n mens is wat telkens van gedagte kan
verander nie. Wat God belowe het, voer Hy uit! As Hy geseën het, kan niks
die seën verander nie. God is by sy volk – Num. 23:18-24.
Vir ons as kinders van God is dit ‘n bevrydende waarheid. Geen bose mag
kan maar net met ons doen wat dit wil nie. Geen mag vermag iets teen God
se almag oor ons nie! God bly getrou aan sy beloftes. Die Here se wil is die
beste vir jou. Bly by Hom, aanvaar sy wil met dank en opgewonde verwagting,
en gehoorsaam Hom daarin.
Bileam het deurgaans probeer om God te beïnvloed.
Ons probeer ook om God by ons planne en wil te laat inval. Ons probeer
dikwels om met ons gebede God in ‘n sekere rigting in te “dwing”. God moet...
Ons moet eerder soos die melaatse man in Matteus 8:2 bid:
“Here, as U wil, kan U my gesond maak.”
Die Here se wil is die beste vir jou! Regtig!
Ernest