Die Bybel waarsku teen die gebeure en die “leer van Bileam”,
soos in Openbaring 2:14. Dit gaan daaroor dat die verrotting
van binne af begin werk omdat ons nie wakker is nie.
Die grootste gevaar lê in innerlike verrotting! Nie dit wat
duidelik van buite op ons afkom nie. Daarom waarsku Spreuke 4:23:
“Wees veral versigtig met wat in jou hart aangaan, want dit bepaal
jou lewe”.
In sy oordeel oor Bileam noem God se Woord twee sake:
Die eerste is dat Bileam geldgierig was. Volgens 2 Pet. 2:15
was hy daarop uit om vir geld onreg te pleeg!
Ons kan vra: Waarom het Bileam alles gedoen? Waarom het hy
na Balak gegaan terwyl hy weet dat dit teen God se wil is? Waarom
al die moeite doen nadat Balak hom elke keer in ‘n ander rigting,
teen God se wil, probeer indwing? Een van die antwoorde hierop is:
Uit liefde vir geld! Liefde vir geld kan so ‘n dryf in jou lewe word dat
dit jou onreg laat pleeg. Van die grootste onreg in die wêreld is gedryf
deur geldsug.
1 Tim. 6:10: “Geldgierigheid is die wortel van allerlei kwaad. Party het
geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal.” In Bileam se geval is
geld misbruik. Telkens probeer Balak hom omkoop om teen God se wil
op te tree. Kwaad lê nie in geld self nie, maar dat jy toelaat dat dit ‘n
houvas op jou kry. 1 Tim. 6:9 sê ons val in versoeking van sinlose en
skadelike begeertes wat tot ons ondergang lei. Geld moenie ons baas
wees nie, maar ons slaaf!
Die tweede oordeel wat God se Woord oor Bileam vel is dat hy
vereenselwig word met die opvatting dat ‘n gelowige maar met
sondige praktyke kan saamleef en daaraan kan meedoen. Dit is nie
“so erg” nie. Openbaring 2:14 noem dit “die leer van Bileam”.
Dit is ‘n baie belangrike waarskuwing vir die tyd waarin ons leef.
Dit is die lewenshouding wat op kompromieë gebaseer is.
“‘n Gelowige hoef nie so erg streng te wees nie”, word dikwels gesê.
Ons moet bid vir die gawe van onderskeiding wat die Heilige Gees
ons gee. Ons kan nie maar net soos die wêreld lyk en doen nie.
Ons is nie in die wêreld om gewild te wees nie, maar om suurdeeg
te wees wat die hele deeg deursuur, en lig wat skyn in die duisternis,
en sout wat bederf teëwerk.
Staan jy uit vir die Here?!
Ernest