In die beloofde land het die Israelitiese stamme elkeen
sy eie grondgebied ontvang – Jesaja 13-22. Maar reeds
vantevore het die Here op Pisgaberg aan Moses gewys
watter erfdeel sommige stamme sou kry – Deut. 34:1-3.
God het hulle erfdeel bepaal en dit vir hulle in bewaring gehou!
God doen dit ook met ons. Ons erfdeel is deur God bepaal en
word deur God vir ons in bewaring gehou! God wil hê dat ons
nou reeds daaroor bly sal wees en opgewonde daaroor sal lewe.
Hy het sy Heilige Gees aan ons gegee. Ons het dit onlangs ook
met Pinkster gevier! Die Gees gee aan ons die waarborg van die
dinge wat God belowe het en wat ons verseker gaan ontvang!
Die Heilige Gees is self die waarborg dat ons dit verseker gaan
ontvang! – Ef. 1:14. Wanneer die Heilige Gees in ons woon,
omdat ons kinders van God geword het deur God se genade werk
in ons, is die Heilige Gees in ons ook ons waarborg dat ons álles
sal ontvang wat God beloof!
Die Heilige Gees doen selfs nog meer: Hy “verhelder ons geestesoë”.
Die erfenis wat ons gaan ontvang is soms vir ons so onwerklik in die
realiteit waarin ons leef. Die Heilige Gees verhelder ons geestesoë
só dat ons “kan weet watter rykdom daar is in die heerlike erfenis
wat God vir die gelowiges bestem het.” – Ef. 1:18. So help die Here
ons om in die harde werklikheid van hierdie lewe vooruit te kyk,
en opgewonde en dankbaar te leef oor die realiteit van ons erfenis
wat vir ons in bewaring gehou word, deur God self!
Leef uit hierdie waarheid! Jy het die kosbaarste erfenis wat daar
kan wees, en God self hou dit vir jou in bewaring!
Ernest