Efesiërs 1:18 is ‘n wonderlike waarheid.
Daarin wys God ons daarop dat die Heilige Gees ons
geestesoë so verhelder dat ons kan weet “watter rykdom
daar is in die heerlike erfenis wat God vir die gelowiges bestem
het” – Ef. 1:18. Maar ons Here God doen nog baie meer in sy
liefde vir ons! Hy gee ook aan ons die versekering dat daar niks
is wat kan verhoed dat ons ons erfenis ontvang nie.
Ons kan voluit in hierdie sekerheid leef!

Petrus sê twee dinge van die erfenis van gelowiges.
Hy noem dit ‘n “onverganklike, onbesmette en
onverwelklike erfenis”.
En dan sê Petrus hierdie eerste belangrike waarheid:
Hierdie erfenis word in die hemel vir ons in bewaring gehou,
volgens 1 Pet. 1:4. God self hou ons erfenis vir ons in bewaring.
Ons erfenis is veilig tot in ewigheid! Elkeen se erfenis word
spesifiek vir hom of haar in bewaring gehou deur God self.

Die tweede waarheid wat Petrus hieroor sê is dat dit nie net
ons erfenis is wat vir ons bewaar word nie, maar ook óns wat
vir ons erfenis bewaar word! “Omdat julle glo, word ook julle
deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid...”,
sê 1 Pet. 1:5. Hierdie saligheid sluit ons erfenis in.

Petrus praat dus van ‘n dubbele bewaring:
ons erfenis word vir ons bewaar, én ons word vir ons erfenis
bewaar. Niks kan ons erfenis van ons wegneem nie. Ons kan dit
nie verloor nie. En niks kan met ons gebeur sodat ons dit verbeur
nie. God bewaar ons, en ons erfenis!
Let op: Dit gebeur “...deur die krag van God...”
Wat meer is: omdat jy ‘n kind van God is, is jy ook erfgenaam
saam met Christus – Rom. 8:17. In een woord gesê:
Omdat jy in Christus glo, gaan jy ten volle deel hê aan die heerlikheid
van Christus. God gee vir jou alle versekering dat jy jou erfenis gaan
ontvang en dat daar eenvoudig niks is wat dit kan verhoed nie!
Leef uit hierdie wonderlike sekerheid wat God self vir jou gee!

Ernest