Sonder die teenwoordigheid van die Heilige Gees
kan niemand God se pad stap nie. Die goeie nuus is
dat die Heilige Gees in elkeen woon wat Jesus as die
Here bely. Ons wat glo is deur die een Gees gedoop,
soos Paulus in 1 Kor. 12 skryf. Daarom kán ons op God
se pad leef.
Selfdissipline sonder dat dit onder leiding van die Heilige Gees is,
is wettisisme. Dan hou jy net by ‘n klomp godsdienstige wette en
reëls om God se guns te probeer wen. Christenskap is nié ‘n
reëlboek godsdiens nie. Christenskap is juis die resultaat van God
se genade. Hy het jou uit genade gered. Nou is jy sy kind! Hy het
jou gemaak wat jy nou is. Hy het jou kom red toe jy nog ‘n sondaar
was, ‘n vyand van God, én Hy het boonop die Heilige Gees aan jou
gegee om jou in staat te stel om vir Hom te leef. Die Heilige Gees
het in jou kom woon om jou te lei in die waarheid! Die Heilige Gees
is ook jou waarborg dat jy God se erfenis sal ontvang wat Hy vir jou
in bewaring hou. Die Heilige Gees werk God se wil in jou lewe uit.
Die Heilige Gees dwing Hom nooit op jou af nie. Wanneer jy die
Heilige Gees toelaat om jou lewe te beheer sal jou lewe verander
in ‘n tempel waar God in elke vertrek woon. Wanneer jy die Heilige
Gees weerstaan en bedroef, sal jy nie op die regte pad saam met
God kan loop nie.
Die Heilige Gees gee selfdissipline en selfbeheersing in jou lewe.
Daarom wil die Heilige Gees jou ook lei in die waarheid van God
se Woord. Ywer sonder kennis kan gevaarlik wees. Dit lei maklik
tot dwaling, al is ons toegewy om vir die Here te leef. Ons sien
dikwels dat mense opreg toegewy is, en dan tog dwaal as gevolg
van ‘n gebrek aan kennis van God se Woord. Die Heilige Gees werk
deur die Woord van God. Die regte soort kennis van God se Woord
kanaliseer ywer in God se rigting. Ywer is broodnodig in God se
koninkryk. Maar ywer moet getoets word aan God se Woord.
Hierin wil die Heilige Gees ons lei. Gebruik die Woord van God as
rigsnoer om jou lewe in detail vir die Here te leef.
Die Woord van God sal jou lei oor hoe om te dink, te praat, te doen.
Die Heilige Gees lei jou in die waarheid van die Woord van God.
Leef uit die waarheid van die Woord.
Selfdissipline vra ook Woord-kennis.
Ernest