Een van die grootste probleme in ons verhouding
met die Here is die “ek het nie tyd nie” probleem.
Dit is byna ‘n standaard uitdrukking op die meeste
mense se lippe. Niemand het meer tyd vir mekaar
en vir God nie! Ons is te besig. Ons is besiger as wat
die Here ons wil hê! Die gebrek-aan -tyd sindroom kan
jou verhouding met God baie skade aandoen. Elkeen van
ons hou alleen die sleutel tot ‘n groeiende geestelike lewe.
Elkeen sal self drasties moet ingryp in sy program om eenkant-tyd
saam met die Here deur te bring.

Ons het klaar alles van God se kant af ontvang om geestelik te kan groei:
Christus het jou reeds uit genade gered.
Die Heilige Gees woon reeds 24/7 in jou om jou te lei.
Jy is reeds deel van die gemeenskap van gelowiges saam met medegelowiges.
Jy het reeds die ewige lewe as geskenk uit God se hand ontvang.

Hoe kan ons dan sê ons het nie tyd om te groei in ons verhouding met God nie?
Kan ons regtig verwag dat God maar geduldig moet wag tot ons Hom in ons
besige program kan inpas?
Ons moet onthou dat God nie bo al die geraas in ons lewe uit skree om ons
aandag te kry nie. God het die reg om alleen aan die woord te wees in ons lewens.
God vra ons volle aandag in eenkant-tyd saam met Hom. God vra jou volle aandag.
Ons kan nie op ‘n geestelike kitskos dieet saam met God lewe nie. God wil ons die
vaste kos gee van ‘n opregte verhouding met Hom waarin ons met volle oorgawe
kan leef. Kom eenkant saam met die Here. Dit is lewensveranderend.
En kort voor lank word dit die pilare waarop jou lewe gevestig is. Waarop al jou
doen en late berus. Kom tot rus by die Here.
Jesaja 30:15 sê “...julle krag lê in stil wees en vertroue hê...” in die Here.

Ernest