Kom ons wees eerlik. Dit is nie aldag maklik om ‘n geestelik
gedissiplineerde lewe te leef nie. As jy soms teleurgesteld is
met jouself en die dissipline in jou geestelike lewe moet jy
weet jy is nie alleen nie. Regdeur die geskiedenis is dit so,
en ons sien dit ook in die Bybel. Dink maar aan Paulus wat in
Romeine 8:26 sê dat hy nie aldag mooi weet hoe en wat om
te bid nie. Ook hierdie groot apostel het windstil dae in sy
geestelike lewe beleef.

Ken jy ook die frustrasie van jou gedagtes wat dwaal terwyl jy
besig is om te bid?
Of die skuldgevoel as jy vir twee of drie dae “nie by die Here
uitgekom” het nie?
Paulus self help ons hiermee. Hy sê in Romeine 8:26-28 dat
die Gees self in sulke tye namens jou bid. Hy neem jou diepste
sugte en begeertes wat jy nie kan verwoord nie, namens jou,
na God toe.

Die belangrike wat ons egter moet besef is dat selfdissipline
in jou geestelike lewe van binne af kom. Dit word nie gemotiveer
deur uiterlike dinge nie, soos byvoorbeeld ‘n bonus by jou
werkplek nie. Uiterlike motivering werk net tot op ‘n punt.
As jy nie van binne gemotiveer is om vir die Here te leef nie,
sal uiterlike dinge jou net tot op ‘n punt neem.
Die ware motivering om jou te laat groei in jou verhouding met
die Here is innerlike motivering. Dit is wanneer jy diep in jou
binneste weet dat iets reg is en dat jy dit wat reg is eenvoudig
moet doen, en jy gáán doen dit! Dan doen jy dit uit eie oortuiging
en nie omdat iemand dit van jou verwag nie.

Selfdissipline vra dat jy binne-in jouself oortuig moet wees van
die waarheid waarmee jy besig is. Die Heilige Gees verander jou
van binne af as jy Hom toelaat en Hom nie weerstaan nie.
Geloof is nie die slaafse gehoorsaamheid aan ‘n klomp reëls nie.
Geloof begin wanneer jy van diep binne af aangeraak is deur God
se genade vir jóú persoonlik.
Die Heilige Gees steek dan die vuur in jou hart aan die brand!

Ernest