Christenskap is nie ‘n vinnige goedkoop antwoord
op die behoefte na ‘n luilekker geloof of godsdiens nie.
Christenskap is verniet! Maar Christenskap is nie goedkoop nie!
Ware geloof in Jesus Christus as jou Verlosser en Here verander
jou totaal. Dit is alles behalwe aankarring op die selfde ou manier
van dag tot dag. Jy groei deurgaans. Wanneer jy ‘n Christen is,
besluit die Here wat jy dink, sê en doen. Jy kan nie aankarring op
jou eie pad van selfsug en eie begeertes nie. Christus is nou die Here
van jou lewe en Hy het die enigste sê oor jou lewe. Jy behoort aan Hom.
Duur gekoop. Jy volg die Here op sy voorwaardes, of glad nie. Daar is
geen middeweg of kompromieë nie.
Geestelike selfdissipline vra opoffering. Dit is ‘n doelbewuste ingrype
in jou manier van lewe. Opoffering is nie altyd maklik nie.
Dit is lekkerder om gedien te word as om te dien. Dit is lekkerder om
voor in die ry te staan as agter. Geloof vra offers.
Dit is eie aan Christen geloof.
Romeine 12:1 sê: “...Gee julleself aan God as lewende en heilige offers
wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesentlike van die godsdiens wat
julle moet beoefen.” Lees weer hierdie vers oor die “wesentlike” van
ons godsdiens as kinders van die Here.
Ons moet in navolging van Jesus leef wat dit vir ons kom voor-leef het
hier op aarde. Ons moet ons voete daagliks in sy spore neersit.
Dit is vreugdevol, ja, maar nie altyd maklik nie. Selfdissipline gaan
dikwels teen ons grein in. Dit is byvoorbeeld makliker om voor die TV
te plak, as om Bybelstudie te doen. Om laat te slaap eerder as om kerk
toe te gaan. Geloof vra offers. Selfverloëning.
Wat het jou geloof jou al gekos? Wat is jy tans besig om op te offer
ter wille van jou geloof? Dink mooi en wees eerlik.
Vra jou geloof van jou offers, of dien jy jouself?
Ernest