In die Apostoliese Geloofsbelydenis bely ons kort en kragtig:
“Ek glo in die Heilige Gees”. Ons bely in hierdie geloofsbelydenis
baie meer in detail ten opsigte van God die Vader en Jesus Christus,
as wat ons oor die Gees bely. Hoekom is dit so? Dit is ‘n vraag wat
gelowiges dikwels vra.
Dit beteken nie dat ons minder van die Heilige Gees weet nie.
Dit beteken ook nie dat ons minder oor Hom móét sê nie. Die Gees
het ook verseker nie laer waarde as die Vader en die Seun nie.
Die Heilige Gees is self ware en aanbiddelike God! Ons vergeet dit
ongelukkig heel dikwels en spreek net die Vader en die Seun aan in
ons gebede. Ons kan in ons gebede ook die Gees meer aanbid as
ware God. 2 Kor. 3:18 sê die Here is die Gees!
Waarom is ons belydenis dan so kort ten opsigte van die Heilige Gees?
Daar is veral twee redes:
Die eerste rede is omdat dit die besondere taak van die Heilige Gees is
om die Vader en Christus te verheerlik, en nie Homself nie. In ‘n sekere
sin tree die Gees agter die Vader en die Seun in. Daarom sê Jesus:
“Wat Hy (die Gees) sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat
Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.” Joh. 16:13.
Sonder die Heilige Gees sou ons nooit die Vader en die Seun kon ken nie.
God help ons om God te leer ken.
Die tweede rede waarom die belydenis so kort oor die Heilige Gees praat
is omdat die Gees aan ons ervarings gee, maar ervarings gee nie aan ons
die Gees nie. Die Heilige Gees werk op ‘n besondere wyse in en met mense.
Dit gebeur dan maklik dat mense hulle geloof op hul subjektiewe ervarings
van die Gees laat berus. Natuurlik is ons ervarings eg en nie verkeerd nie.
Die Gees laat ons tog ook emosie ervaar. Maar die punt is:
Ons glo nie in die ervarings nie. Ons glo in die Gees, as Persoon!
Ook wat die Gees betref moet ons sê: “Ons lewe deur geloof, nie deur
sien nie.” – 2 Kor. 5:7.
Hierdie saak is regtig baie belangrik. Ons moet die onderskeid goed verstaan:
Die Heilige Gees gee wel aan ons die wonderlikste ervarings van God se genade
en sy teenwoordigheid, maar die ervaringe gee nie aan ons die Gees nie!
Ons geloof hoef dus nie te wankel as daar tye kom wanneer ons die Heilige
Gees nie “ervaar” nie. Ook dan werk die Heilige Gees net soveel met ons, want
niks kan Hom keer nie. Ons moet net versigtig wees om nie ervaring voor die
Gees te plaas nie, soos “‘n kar voor perde nie.” Glo in die Heilige Gees!
Kort en kragtig. Met of sonder ervarings. God werk deur die Gees soos Hý wil!
Die Gees van God skenk aan my die geloof. Dit is al genoeg! Dit glo ons!
Ernest