Martin Luther het by geleentheid gesê die wese van
geloof is om jou oog deurentyd op God gerig te hou.
Dit is die kuns van geloof. Dit is ook die stryd van geloof.
Geloof is om jou blik weg te draai van allerhande ander
dinge wat jou blik kan vasvang en jou weglei van die
essensie van jou geloof. Dit gebeur maklik om jou blind
te staar teen sondige dinge. Sonde kan jou oë vir jare
gevange hou en jou fokus wegneem van God af.
Dink maar aan die alewige stryd met materiële dinge wat
deurgaans al jou tyd en energie vra. Alles wat ons sien wil
ons hê! Ons kan ook behep raak met sport, of werk. Of baie
ander dinge. Dit laat ons gou van God vergeet. Die kuns van
die geloof is om met selfdissipline jou oog op God gefokus
te hou.
Die probleem is dat ons blik een kyk op ‘n slag verskuif.
Eers is ons op die spoor, dan byna op die spoor, dan langs
die spoor en dan al verder weg totdat jy later die spoor
heeltemal byster raak. Dit is ook die strategie van die duiwel
wat jou bietjie vir bietjie skuif sonder dat jy dit agterkom.
Ons sê maklik: “stel God eerste”. Hierdie woorde kom maklik
en is bekend. Maar om dit te doen vra opoffering en toewyding.
Selfdissipline. Ons moet dan dikwels keuses maak wat lynreg
teen ons selfsugtige wil staan. Dit is in die alledaagse lewe geen
grap om God bo alles te stel nie. Dit kan jou baie kos: jou vriende,
jou verhoging, jou werk...
Ons weet hoe baie ons teleurgesteld in onsself is omdat ons
eenvoudig nie God altyd bo alles stel nie. Selfdissipline is eenvoudig
die onvoorwaardelike onderwerping van jouself aan God. Geloof vra
moeilike keuses, en dan vasbyt en deursettingsvermoë.
Om te besluit jy kies God bo alles is hoogstens die eerste en
belangrikste stap. Die uitlewing daarvan is selfdissipline. Dit verg
leeuemoed. Maar sien die eindpunt daarvan raak! Hebreërs 12:1-2:
“...laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik
verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding
hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die
geloof.”
Ernest