Baie mense dink en voel dat die Heilige Gees ‘n veraf
onpersoonlike Krag is. Hulle sê dat ons van die Persoon
van die Vader baie weet. Hy is liefdevol, genadig, barmhartig.
Hy is “soos ‘n volmaakte vader”. Oor die Persoon van die Seun,
Jesus Christus die Here, weet ons veral baie. Hy was immers een
van ons. Hy was hier op ons stofpaaie. Mense het Hom gesien en
gehoor en aan Hom geraak. Maar die Gees?
Ons assosieer die woord “Gees” met invloed, iets wat nie vorm
aanneem nie, waaroor jy onseker is...gees...

Maar so is die Heilige Gees beslis nie! Hy is net soos die Vader en
die Seun die Goddelike Persoon, God self. Hy praat, woon in ons,
gee leiding, luister, herinner en vermaan. Volgens Ef. 4:30 kan die
Heilige Gees selfs deur ons bedroef word! Hy is dus nie ‘n krag soos
elektrisiteit wat jy kan aan of afskakel nie. Hy is altyd by ons, in ons.
God in ons! Dit is ‘n wonderlike troos om te weet dat ons nooit
alleen is nie, en dat Hy in die moeilikste omstandighede ook ons
Trooster by en in ons is. Ons kan met Hom praat, sy leiding soek,
en ons vrese en onsekerhede met Hom deel. Ons kan ook weet
dat ons Hom nie ongehoorsaam moet wees nie en Hom nie moet
bedroef nie.

Miskien voel jy op hierdie stadium in jou lewe baie eensaam.
Dalk het jy nie meer familie nie en woon alleen. Dalk is jou vriende
ook al skaars en jy sien hulle nie. Moontlik dink jy dat niemand jou
verstaan of vir jou omgee nie. Luister nou hier:

Daar is altyd ‘n Persoon by jou! Altyd! Ook nóú. Hy luister altyd en
Hy verstaan altyd. Hy wil jou troos en jou lei en altyd in jou bly!
Hy luister en Hy verstaan selfs meer as jy oor jouself. Praat met Hom.
Laat Hy ook vir jou bid wanneer jy nie meer weet wat en hoe om te
bid nie. Hy doen dit! - Rom. 8:26.
Hy verander eensaamheid in saamwees met Hom en met Jesus,
en met jou Vader wat omgee, en jou liefhet.

Ernest