Wanneer ontvang ons die Heilige Gees?
Hoe weet ek dat ek wel die Heilige Gees ontvang het?
Laat jou lei deur drie beginsels:

Eerstens: Die drie Persone van die Drie-Eenheid is een Wese.
Dit beteken dat as jy Jesus ontvang het, dit wil sê as jy in Hom gló,
jy ook terselfdertyd die Vader en die Gees ontvang. Hierdie drie
Persone is nie te skei nie. Vader, Seun en Gees is een Wese!
Daarom verduidelik Romeine 8:9 ook: “As iemand die Gees van
Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.”
Dit is onmoontlik dat jy gered kan wees sonder om die Gees
in jou te hê – sodat jy nog met die Gees “vervul” moet word.
Nee, wanneer jy in Christus gered is, woon die Gees in jou.

Tweedens: Wanneer ons die Gees ontvang het, het ons die
“volle” Gees ontvang, nie net ‘n deel van Hom nie. Hy is tog
‘n Persoon, en dit is belangrik, wat nie net gedeeltelik in jou
kan woon nie. Hy woon volledig as Persoon in jou. Dit is
wonderlik om dit te weet! Máár, dit beteken nie dat ons nou
volmaak geword het nie, of dat ons elke dag ten volle onder
die heerskappy van die Heilige Gees leef nie. Juis nie.
Die volle Gees woon as Persoon in ons, máár ons is nie altyd
ten volle aan Hom gehoorsaam nie. Dit is daarom dat Paulus
ons as gelowiges oproep: “Laat die Gees julle vervul” – Ef. 5:18.
Die bedoeling van “vervul” is nie dat ek al hoe meer van Hom
kry nie, maar dat Hy al hoe meer van mý kry. Dat Hy al hoe meer,
in elke ruimte van my lewe beheer oorneem, omdat ek my volledig
aan Hom oorgee en aan Hom toewy. Dit is iets wat elke dag , elke
oomblik van ons lewe moet plaasvind.

Derdens: Glo dit! Dit is ‘n saak van geloof. Glo dat die Heilige Gees
in jou woon. Neem God op sy woord daarvoor. Dit is wat geloof is.
Om God op sy woord te neem en onvoorwaardelik te vertrou.
Wy jouself aan Hom toe. Glo dat die Gees jou vervul.
Lééf uit dié geloof!

Ernest