Wanneer ons bely “ek glo in die Heilige Gees”,
bely ons dat daar die aller-intiemste verhouding tussen
ons en Hom is. Hy woon immers in ons! Dit slaan ons asem
weg om net daaraan te dink dat God deur die Gees in ons woon.
Dit is nié maar net “iets” van God wat in ons is nie. Dit is God self.
Dit sê so oneindig baie van wie ons vir God is, hoe genadig Hy is,
en hoe lief Hy vir ons is. Ons moet in elk geval nie in fisieke terme
dink oor God wat “in ons harte woon” nie – Ef. 3:17.
Dit is ‘n geloof-saak.
Wat ons verseker weet is dat hierdie inwoning tot ons heil is,
dat dit ons red, ons heilig, ons verheerlik...
Dink net mooi hieroor na: Dit sê veral vir ons dat ons vir God só
belangrik is dat Hy van óns sy woonplek maak. Ons liggame is ‘n
tempel van sy Gees – 1 Kor. 6:19. Regtig, wie hierdie ses woorde:
“Ek glo in die Heilige Gees”, opreg bely, kán nie meer ‘n
minderwaardigheids-kompleks hê nie!
Gló, en lééf, uit dit wat jy bely!
Maar verder moet ons weet wat Gal. 5:17 sê:
“Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil,
en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer.
Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar...” Dan maak Paulus
hierdie belangrike gevolgtrekking: “...en daarom kan julle nie doen
wat julle graag wil nie.” Maar Paulus gee ook die allerbelangrikste
raad in vers 25:
“Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”
Hierdie waarheid en raad van Paulus behoort by ons ten minste drie
dinge tot gevolg te hê:
Een: So baie dankbaarheid teenoor God!
Twee: ’n Baie groter ongeduld met my eie sonde!
Drie: ‘n Baie groter geduld met ander mense,
in wie die Gees ook woon en werk, soos in my!
Ernest