Dit is merkwaardig dat die Heilige Gees nie net in ons
woon nie maar ook in ons werk! Hy bewerk ‘n hele reeks
dinge in ons en vir ons: Roeping, wedergeboorte , geloof,
bekering, regverdigmaking, heiligmaking, volharding en
verheerliking. Alles wat ons van God ontvang!
Die Heilige Gees neem ons saam op die hele heilsweg van
God se genade! Ons kan niks byvoeg nie. God doen álles,
in Christus deur die Gees!
En tog, dán sit die Heilige Gees óns ook aan die werk!
Ons moet die heilsweg saam met die Heilige Gees loop
en leef. Maar die Gees dwing ons nie hierin nie. Hy lei ons
in die hele waarheid, op só ‘n wyse dat ons Hom daarin kán
volg. En ons vólg Hom. Die “kerkvergadering” kon daarom in
Handelinge 15:28 sê: “Die Heilige Gees en ons het besluit...”
Let op: die Heilige Gees lei, “en ons” volg.
Dalk klink dit alles nou, menslik gesproke, nie logies moontlik nie.
Hoe kan die Heilige Gees alles vir ons doen, terwyl ons tog ook
iets moet doen? En tog is dit so. Die Gees én ons gaan op die
heilsweg van God. Die Gees lei en ons gehoorsaam en doen.
Dit is nie dat die Gees 90% doen en ons 10%, of so iets nie.
Die Gees help ons nie sodat ons onsself later dan verder kan
help nie. nee. Die Gees doen 100% alles...en ons ook. Hy verlos
ons volkome sodat ons volkome dankbaar teenoor God kan lewe.
Wanneer die Heilige Gees werk, skakel Hy ons nie uit nie. Hy
maak juis van ons medewerkers in diens van God – 1 Kor. 3:9.
Ons is medewerkers van die Gees wat nou juis alles vir God wíl
doen, uit dankbaarheid vir sy genade en liefde vir ons!
Dit is ‘n wesenlike deel van geloof wat die Gees in ons bewerk,
want “geloof wat nie tot dade kom nie is dood.” – Jak. 2:26.
Die Gees maak ons bedelaars wat alles van God ontvang en niks
kan verdien nie, én tog ook medewerkers wat dóén om God se
koninkryk uit te brei.
Wat ‘n voorreg is 1 Kor. 3:9: “Ons is medewerkers in diens van God...”
Kom! Rol op jou moue en dien onder leiding van die Heilige Gees,
én saam met die Heilige Gees!
Ernest