Ons moet verander word. Van binne.
Die Heilige Gees moet dit doen. Net die Heilige Gees
kan dit doen. Die Bybel noem dit wedergeboorte.
Ons moet verander wórd, nie op grond van iets wat óns
vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van God
se ontferming. Titus 3:5-6 sê dit:
“Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas,
en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige
Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.”

Het jy al verander? Jy sê jy probeer telkens, maar jy kry dit nie reg nie?
Jy sê wát jy ookal doen om te verbeter, as jy weer sien doen jy maar
weer dieselfde verkeerde dinge? Laat God die Gees dit doen!
Ons probeer verniet van buite af. Hy doen dit van binne af!
Hy verander jou hart totaal deur die wedergeboorte. Jy kan nie.
Net God kan, deur die Gees. Gee nou jouself prys...
“Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom
aanneemlik is...” – Rom. 12:1.

Die Heilige Gees moet ons van binne af nuut maak.
Geen uiterlike pogings kan dit doen nie. Ons kan groot aanpassings
Probeer, soos om meer Bybel te lees, meer kerk toe te gaan, meer
geduld met mense te hê. Maar alle aanpassings is nog steeds nie
totale verandering nie. Ons moet nuut lewe want iemand wat aan
Christus behoort is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het
gekom – 2 Kor. 5:17.
Jy kan al die suurlemoene van ‘n suurlemoenboom afpluk en lemoene
in hulle plek aanplak in ‘n poging om van jou suurlemoenboom ‘n
lemoenboom te maak. Dit sal nie werk nie. Gou val die lemoene ook
eenvoudig af. ‘n Suurlemoenboom kan net suurlemoene dra.
Jesus het gesê elke boom word aan sy eie vrugte geken – Luk.6:44.
Watter soort boom is jy? Watter vrug dra jy?

Ernest