‘n Vuurpyl word gewoonlik naby aan die lanseerbasis gebou.
Gewoonlik nie verder as so ses kilometer nie. Die rede is dat
hierdie massiewe mensgemaakte ruimtetuig na die basis vervoer
moet word. Dit word gedoen met ‘n kruiptrekker wat ongeveer
2680 ton weeg. Hierdie kruiptrekker beweeg teen ‘n slakkepas van
ongeveer 2 kilometer per uur. Dit duur in die omgewing van drie
ure om die kort afstand met die vuurpyl na die lanseerbasis af te lê.
Maar wanneer die vuurpyl eers gereed is op die lanseerbasis en die
motors ontbrand op die dag van lansering, gaan dit teen ‘n ontsettend
vinnige spoed die ruimte in. Ongeveer 5000 kilometer per uur!
Na slegs 12 minute is dit in die buitenste ruim.
Dit is ‘n goeie beeld om die verskil tussen ‘n Geesvervulde en ‘n Gees-arm
lewe te verduidelik. Wanneer jy op jou eie krag staatmaak is jy soos die
kruiptrekker teen ‘n slakkegang, of dalk nog erger, teen ‘n kreeftegang.
Partykeer meer dwars as vorentoe. Maar wanneer jy op die Heilige Gees
vertrou, is daar groot krag wat jou hemelwaarts “lanseer”. Aan hierdie krag
van die Heilige Gees moet ons nie twyfel nie. God werk kragtig deur die
Heilige Gees in en deur ons. Kyk net wat sê Ef. 2:20-21 daaroor:
“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk , magtig is om oneindig meer
te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe...” Die vraag is of
jy teen ‘n slakkepas beweeg, of teen die pas van geestelike groei wat God
vir jou bedoel, deur die krag van die Heilige Gees?
Wanneer ‘n seilskip met selfs die beste seile op ‘n windstil see lê, kan dit nie
vorentoe beweeg nie. Jy kan die seile span, maar sonder wind is dit nutteloos.
Jy maak eenvoudig nie vordering nie. Jy kan jou nie eers teen die seestrome
verset nie, want daar is geen wind in die seile nie. Maar wanneer die wind
begin waai verander die hele situasie! Die seile staan bol in die wind en die
stukrag in die seile dwing die seilboot teen spoed vorentoe.
Die Heilige Gees is soos die wind in die seile. Hand. 2:2 sê:
“Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos die van ‘n geweldige stormwind...”
Ons is, wat ons geestelike lewe betref, nie oorgelaat aan ‘n windstil situasie nie!
Die Heilige Gees se stukrag beur ons vorentoe na ons ewige bestemming.
Die vraag is of jy al agtergekom het dat die wind waai, en of jy daarom jou seile
span om in die stukrag van die Heilige Gees te lewe?! Probeer jy “manmoedig”
met jou eie roeispane roei, of is jou lewe gespan na die stukrag van die Heilige
Gees? Span jou seile! Leef in die opwinding van die stukrag van die Gees!
Ernest