Johannes 6:13: “Wat Hy sê, sal nie van
Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor...”
Die Heilige Gees dra die boodskap van God aan ons oor.
Die Vader dra die boodskap oor aan die Seun en die Seun
dra die boodskap oor aan die Gees. En die Gees dra die
boodskap oor aan ons. Wat die Gees sê kom nie van Homself
nie; Hy sê net wat Hy hoor.
Maar die punt is: die Gees hoor volmaak. Die Vader, Seun en
Gees bestaan in volmaakte verhouding tot mekaar en die Gees
kan nie “verkeerd” hoor nie. Ons moet dus doelbewus onder
beheer van die Gees leef wat die boodskap van God se Woord
aan ons oordra. Om elke dag God se wil vir ons lewe te soek en
daarvolgens te leef, moet ons onder leiding van die Heilige Gees
leef. Ons moet nie die Heilige Gees weerstaan nie. Die Heilige
Gees help ons om God se Woord te verstaan en te gehoorsaam.
Ons moet ook die krag van gebed onder leiding van die Heilige
Gees as onontbeerlik sien. Die Heilige Gees help ons juis ook om
te kan bid, want “ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie,
maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde
gesê word nie.” – Rom. 8:26.
Die Heilige Gees help ons ook om volgens God se wil vir ons te bid.
Die Heilige Gees help ons ook om in te sien dat God dikwels ons
gebede anders beantwoord as wat ons sou dink of vra.
Martin Luther het hieroor gesê: “Dit is die allerbeste teken wanneer,
as antwoord op ons gebede, skynbaar die teenoorgestelde gebeur.
Net so is dit ook geen goeie teken wanneer, as antwoorde op ons gebede,
alles na wense verloop nie. God gaan soms teen ons gedagtes in, sodat dit
lyk of Hy ná ons gebede nog meer toornig op ons is as vóór ons gebede.
Dit doen Hy alles slegs omdat dit sy aard is om eers te verwoes en tot niet
te maak wat verkeerd is in ons, voordat Hy ons sy gawes skenk.”
Ja, God antwoord soms teen ons grein en wil in. Maar Hy antwoord altyd
en Hy weet altyd die beste. Soms moet Hy afbreek en tot niet maak, sodat
sy wil uiteindelik ook in ons gebede kan seëvier.
Ons moet dit onthou wanneer ons bid. Dit kan beteken dat dit op die oog af
eers “slegter” met ons gaan, uit ons eie oogpunt, voordat dit beter met ons
gaan uit God se oogpunt! Om te bid beteken dikwels dat ons self deur die
smeltkroes van verandering na God se wil moet gaan.
Die Heilige Gees help ons in hierdie proses. Ons moet nie meer of minder
bly wees ten opsigte van God se gebedsverhoring nie. Die verhoring van ons
gebede gaan nie oor ons gerief nie, maar oor God se wil.
Dit beteken sy gawes is op pad, en sy wil geskied in ons lewe!
Ernest