Die Heilige gees lei deur die Woord van God,
en lei ons ook in en deur gebed. Daarom dat Paulus
beklemtoon het: “Doen dit alles biddend en smeek God by
elke geleentheid deur die Gees “ – Ef. 6:18. Ons kan nie die
Woord van God lees en verstaan sonder die leiding van die
Heilige Gees nie. Ons kan ook nie bid sonder die hulp en
leiding van die Heilige Gees nie. Vertrou die Gees. Bid deur
die Gees. Hy wil jou lei in God se wil en jou Trooster wees.
Wanneer ons vra na God se wil vir ons lewe is daar, behalwe
die Woord en gebed, ook nog ‘n derde manier waarop die Gees
ons lei:
Dit is die gesonde verstand wat die Here aan ons gegee het.
God wil ons lei deur ons gesonde verstand wat in sy diens is!
Dit is baie belangrik dat ons dit reg verstaan: Die Here lei ons
meestal op ‘n natuurlike manier, só dat ons dit dikwels nie eers
agterkom nie. Daarom is “natuurlike” dinge, soos jou gesonde
verstand, nie sonder meer verkeerd nie. Die Heilige Gees lei ons
ook daardeur op ‘n heel gewone manier. Filippense 2:13 sê:
“...want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sywil
uit te voer.”
Dan is daar ook nog ‘n vierde manier hoe die Gees ons lei:
Dit is deur uiterlike omstandighede. Die Gees werk nie net in die
kerk of in indiwiduele gelowiges nie, maar orals in die wêreld en
in die geskiedenis. Dit beteken dat die Heilige Gees omstandighede
so kan skik dat Hy daardeur die rigting vir ons aandui. Dit gebeur
byvoorbeeld met Paulus en Timoteus se tweede sendingreis.
Ons lees dat die Gees hulle verhinder het om die Woord in Asië te
verkondig, en dat Hy hulle “nie toegelaat het” om na Bitinië te gaan
nie – Hand. 16:6-7. Hoe presies weet ons nie. Maar die Gees het hulle
hierin gelei deur deure oop of toe te maak.
Leef met oop oë en ore, sodat jy fyn kan onderskei hoe die Heilige Gees
jou wil lei in God se wil...
Bestudeer dus die Woord onder leiding van die Gees en neem toe in
kennis oor die wil van God.
Bid ook onder leiding van die Heilige Gees en neem toe in fyn aanvoeling
van wat God wil hê - Fil. 1:9.
Stel jou gesonde verstand onder beheer van die Gees om jou te lei in
God se wil in jou lewe.
Ernest