Ons kyk kortliks na ‘n paar dinge wat Jesus oor die
werk van Heilige Gees gesê het kort voor sy kruisiging:
Jesus noem die Heilige Gees die Voorspraak wat sou
kom - Joh. 16:7 en 1 Joh 2:1.

Volgens Johannes 16:8 behels die werk van die Heilige Gees
drie dinge: Hy sal bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde,
dat die reg aan Jesus se kant is, en dat die oordeel al gekom het.

Eerstens: Die Heilige Gees oortuig die wêreld van sonde,
want die wêreld glo nie in Jesus nie – Joh. 16:9.
Die mens se hele wese skop daarteen. Ons pak skuld op ander
en projekteer deurlopend ons eie skuld. Alles en almal, behalwe
ons is skuldig. Adam sê dis Eva, en Eva sê dis die slang! Die Heilige
Gees laat ons sien wie ons regtig is en Wie Jesus regtig is!

Tweedens: Die Gees oortuig die wêreld dat die reg aan Jesus se
kant is want Jesus gaan na die Vader toe! - Joh. 16:10.
Die wêreld het Jesus voor hulle regbank gebring en Hom skuldig
bevind. Die Gees wys op die triomf van Jesus, sy opstanding, en
verhoging aan die regterhand van God van waar Hy regeer!
Jesus is die Here! Die Gees ver-Heer-lik die Here! Hy laat ons
besef dat ons nie net kan praat oor óns ervarings deur die Gees
nie, maar dat ons by uitstek oor Jesus moet praat! Om te getuig
dat Jesus die Here is, kan jy net deur die Gees doen – 1 Kor. 12:3.

Derdens: Die Heilige Gees oortuig ook die wêreld dat die oordeel
al gekom het! Die owerste van hierdie wêreld, die Satan, is klaar
veroordeel! – Joh. 16:11. Al lyk Satan aktief en magtig, oortuig die
Gees ons dat die Bose reeds oorwin is aan die kruis en opstanding
van Jesus! Die Gees laat ons verby-kyk by die vertoon en mag van
die Bose, en die ewige Oorwinnaar Jesus Christus die Here sien!...
aan die regterhand van God, vanwaar Hy regeer!

Leef uit hierdie waarhede waarvan die Heilige Gees jou oortuig.
Glo dit en lééf!

Ernest