Die Heilige Gees lei ons na die heerlikheid van God.
Jesus het belowe dat die Heilige Gees ons in die hele waarheid
sal lei – Joh. 16:13. Dit is die waarheid oor sonde, reg, en oordeel,
Joh. 16:8, en veral ook die waarheid oor Jesus, Joh. 16:14.
Die Heilige Gees maak ons sensitief vir die waarheid. Hy lei ons
deur donkerte en uitsigloosheid.

Dit werk byna soos die sonar van ‘n duikboot. Die bemanning
kan nie onder in die diepsee op hulle menslike sig staatmaak nie.
Dit is donker. Die duikboot kan maklik bots met rotse en riwwe.
Maar die sonar karteer die onbekende dieptes. Dit laat die
bemanning “sien” waar hulle moet vaar. Dit lei hulle.
So lei die Heilige Gees ons waar ons nie kan “sien” nie. Net soos
die bemanning die sonar vertrou, moet ons die Gees vertrou in
sy leiding. Wees daarom ontvanklik vir die leiding van die Gees.
Hy wil jou in die hele waarheid lei.

Waarheen?
Die Gees wil jou die heerlikheid van God laat sien!
Die lewe met sy wisselende sleurgang, stres en trauma kan maak
dat ons net donker sien, soos onder in die diepsee. Die Heilige Gees
maak jou oop vir die heerlikheid van God. En jy kan dit sien in die
donkerste omstandighede denkbaar.
Ons lees dat Stefanus, kort voordat hy gestenig is, vol van die Heilige
Gees opgekyk het na die hemel en die heerlikheid van God gesien het,
en Jesus wat aan die regterhand van God staan – Hand. 7:55.
Die Gees kom vee as’t ware telkens die venster skoon sodat ons die
heerlikheid by God kan sien, en Jesus as Oorwinnaar aan God se
regterhand!

Wanneer dit vir jou voel of jou uitsig totaal belemmer word deur jou
omstandighede, en dat dit donker is rondom jou, moenie moed verloor
nie. Die Heilige Gees wil jou laat sien! Laat jou lei deur die Gees en leef
uit die hele waarheid waarin Hy jou wil lei, ten spyte van jou omstandighede.
Kyk op, soos Stefanus, en sien die heerlikheid van God, en Jesus wat aan sy
regterhand staan. Jesus wat vir jou plek berei. Hy het reeds oorwin!

Ernest