Daar is seker nie ‘n Kinder-Bybel wat nie die verhaal van Noag en
die ark bevat nie. Dit is ‘n treffer vir elke kind, van klein-klein af.
Hierdie is egter nie net ‘n mooi kinderstorie nie. Dit is een van
die verhale van God se handeling met die mens reeds van die
begin af. God se bemoeienis met die mens wat Hy in liefde
geskep het, en wat toe só tragies in sonde verval het.

Daar waar die grense van drie lande bymekaarkom, die van Turkye,
Iran en Armenië, daar is twee bergspitse wat Groot-Ararat en Klein-
Ararat genoem word. sommige geleerdes meen dat dit op die nek
tussen hierdie twee spitse is wat die ark van Noag “tot rus” gekom
het. Dit nadat hy en sy gesin en die diere vir vyf maande daarin
gewoon het.

Dit is juis hierdie merkwaardige landing van Noag se ark op die
berg Ararat wat vir ons die bewys lewer van God se wonderlike
beskikking en tydsberekening. Nadat Noag in die ark ingegaan
het, het dit vir 40 dae gestortreën. Gen. 7:17: “Die water het al
hoe meer geword. Dit het die ark opgelig en die ark het begin
opstyg bokant die aarde.” Maar, hierdie ark was nie ‘n moderne
skip met ‘n roer en ‘n kompas nie. Daar was nie seile nie.
Noag kon op geen manier die ark self stuur of beheer nie!
Die ark het oënskynlik sonder koers op die water rondgedobber...

En tóg nie! God was die Stuurman! God was in beheer van die ark!
Hy het die ark laat dryf en Hy het die ark se koers bepaal. Stiptelik,
die oomblik toe die water van die nek tussen die twee berge begin
wegtrek, het God die ark presies daar “neergesit”. God het die ark
gestuur en “geland”! Presies en stiptelik.

Ons moet dit in geloof aanvaar en glo: God is die Al-beskikker!
Al lyk dit asof dinge rondom ons rigtingloos ronddobber. Al lyk dit
asof ons geen greep of beheer het nie, soos Noag. God het beheer
oor jou lewe. Hy kies die plek en die tyd. Jy kan met dieselfde
geloofsvertroue as Noag in die ark van die lewe instap. Erken jy is
nié in beheer nie. Erken die wêreld of geen groot- wêreldmag is
regtig in beheer van jou lewe nie. Net God is! Van konsepsie, tot
geboorte, elke dag, tot sterwe, en tot in ewigheid.
Jy dryf nie sonder beheer rond nie. Die feit is net:
Jý is nie in beheer nie. God is!

Geloof is om Hom onvoorwaardelik daarvoor te vertrou, soos Noag.
“Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy
gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het
hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ‘n veroordeling
van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak
wat deur die geloof kom” – Hebreërs 11:7.
Glo onvoorwaardelik soos Noag. Uiteindelik was dit nie Noag se ark nie,
maar God se ark! Klim in God se ark! Hy is in beheer. Net Hy!

Ernest