Is dit nie wat geloof is nie? Om God
onvoorwaardelik op sy woord te neem!

Noag se optrede vandat hy die ark begin bou het totdat hy
in die ark ingegaan het, was ‘n geloofshandeling, ‘n geloofsdaad!
Ook toe die ark begin dryf het en hy geen beheer oor die ark gehad
het nie, was dit geloof wat hom oortuig het dat hulle nié sal vergaan
nie! Hy het geen bewys hiervoor gehad nie. Net God se woord.
Daarom sê Hebreërs 11:7 dat Noag geglo het en gehoorsaam het,
oor dinge wat nog nié gesien kon word nie. Om te gló, is immers
“om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” – Heb. 11:1.

Toe die ark op Ararat land het Noag geweet dat God sy woord
gehou het. Maar voor dit moes hy God absoluut daarvoor vertrou.
Nou eers het hy dit met sy eie oë gesien. Dit is dus nie “sien is glo nie”,
maar “glo is sien!”, in Bybelse- en geloof-terme. Geloof in God se
woord gaan oor in aanskoue! Daarom glo ons die Woord van God
onvoorwaardelik. Duisende mense het rondom Noag-hulle vergaan,
maar hulle is deur God begenadig, en gered.

Só is dit ook wanneer jy God se Woord glo ten opsigte van jou redding
in Christus! Paulus sê dat dit van die begin tot die einde ‘n saak van
geloof is: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van
hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar
geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo,
sal lewe.” – Rom. 1:17.

Wanneer jy soos Noag vir God onvoorwaardelik op sy woord neem en
Hom gehoorsaam, doen jy dit in geloof. En ook ná jou oorgawe aan
Christus het jy geen tasbare bewyse nie. Maar soos Noag wat die ark
gebou het, al het hulle hom uitgelag, gaan jy voort met geloof.
En wanneer jy, soos Noag, die dag “land”, gaan jou geloof oor in aanskoue.
Geloof is nié “sien is glo” nie. Geloof is om, sónder om te sien, te wéét:
God is die waarmaker van sy Woord! Glo só!

Ernest